Genesis 37: 1-11

Die samelewing maak soms baie gewag van wie jy is en waar jy vandaan kom. Belangrikheid word daaraan gemeet en aansien word dikwels daardeur bepaal. Eintlik is dit baie belangriker om te weet waarheen jy op pad is. As jy weet waarheen jy op pad is, gaan jy daar uitkom. Eweso gaan jy, as jy nie weet waarheen jy op pad is nie, ook nie daar uitkom nie.

Josef is ’n jongman wat met sy lewe op pad is. Sy familiegeskiedenis is besonders. Hy is sy pa se gunstelingseun. Ons ken sy geskiedenis vanwaar sy pa hom na sy broers toe stuur, sy broers hom verkoop aan handelaars en Josef in Potifar se huis beland. Josef word vals beskuldig van ’n lollery met Potifar se vrou en onskuldig beland hy in die tronk. In die tronk lê Josef die skinker en bakker se drome uit, en 13 jaar later lê hy die ontstelde farao se droom uit. Josef word die eerste minister in Egipte en kan later voedsel verskaf aan sy vader en broers. Josef word 110 jaar oud, hy sterf in Egipte en word in Kanaän begrawe. Drie dinge staan uit in Josef se geskiedenis: (1) Deur alles heen behou hy perspektief. (2) Die Here stap die pad met hom. (3) Hy verbreek die negatiewe ketting van gebeure deur elke keer die positiewe, regte ding te kies, en hy hou vas aan sy droom. Hy bly instrument in die hand van God.

U en ek het ook ’n familiegeskiedenis: Ons is kinders van God. Ons is ook in ’n begunstigde posisie: uit genade uitgekies in Jesus Christus. Ons het ook ’n droom: God se plan met ons lewe en ons afwagting op die ewige heerlikheid by God.

Ek het, toe wilde storms gewoed het,

diep onder, vaste rots gevind.

Die woord wat my van ramp behoed het:

God is my Vader; ek sy kind.

My anker is dáár vasgemaak

– ek glo! – niks sal dit los laat raak.

(Gesang 501: 1)

Ds Leon Geel, Grimbeekpark

af
af
Deel met behulp van
Copy link