Hebreërs 10: 32-39

Lojaliteit, getrouheid en volharding klink vandag na “oudtydse waardes”. ’n Mens hoor die siniese opmerking: As jy lojaliteit soek, skaf ’n hond aan. Die mentaliteit vandag is om te doen wat vir jouself die beste is – eiebelang bo alles. Die “oudtydse” waardes van lojaliteit en getrouheid het weer te make met verhoudings, verbondenheid, liefde en omgee.

Gelowiges leef in ’n verhouding, in verbondenheid met Christus en mekaar. Om getrou en lojaal te bly aan ons Here, om te leef volgens die waardes van God se koninkryk, verg volharding in ’n wêreld waar dié soort waardes vreemd is. Dit is nie maklik nie. Eerstens moet ons by onsself en ons selfgerigte neigings verby kom. Dan moet ons by die mentaliteit van ons wêreld verby kom: geld, posisie, ambisie bo alles, trap op ander, lieg en bedrieg, oneties optree. Instellings funksioneer so en individue speel maar saam. Hoe kan ons anders?

Die gelowiges in Rome het ook druk ervaar om te konformeer met hul wêreld. Hulle moes die keiser vereer as heer, anders is hulle as dislojaal beskou. Om dislojaal te wees teen die keiser, was verraad. Hulle kon alles verloor. Baie het maar toegegee. Dit was makliker en veiliger. Ander het wel lojaal gebly aan Christus as hul Here, en aan die waardes van God se koninkryk. Die Hebreër-brief moedig hulle aan om te volhard. Dan sal hulle ontvang wat God beloof het. Dit is oneindig meer werd as wat die wêreld hulle bied.

Jesus is dié voorbeeld van volharding en lojaliteit. Wie hom voor oë hou, kan sterk staan in sy krag. Jesus verstaan ons stryd. Dit is nie maklik om vas te staan teen die wêreld se druk- en stootkragte nie. Ons het moed nodig om te volhard en, getrou aan ons Here, eenvoudig en lojaal te lewe.

Die waardes van God se koninkryk is nie “oudtyds” nie. Dit was nog altyd vreemd aan die mentaliteit van die wêreld en mense se neiging om vir hulself te wil leef. Dit het nog altyd waagmoed en volharding gekos om lojaal aan God se ander soort waardes te lewe.

Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link