Romeine 8: 12-17
Ons as gelowiges verwys gereeld na onsself as kinders van God, want ons is dit ook. Om God se kinders te wees, is ook ’n belydenis waarmee ons sê dat ons deur die Heilige Gees gelei word. Dit is immers die Heilige Gees wat ons tot kind van God maak.
Sien, die Heilige Gees skenk aan ons geloof, maar werk ook in ons en maak ons oë oop vir die verlossing wat God ons skenk. Dit is die Heilige Gees wat ons oortuig dat Christus ons, deur sy kruisiging en opstanding, sy kinders maak. Die Heilige Gees is Vader en Seun nie net by ons nie, maar ook in ons.
Tog is dit belangrik om gedurig te vra of ons handel en wandel ooreenstem met dit wat ons bely. Laat ons werklik toe dat die Heilige Gees ons lei? Dink en leef ons soos ’n kind van God? Met ander woorde: Beskik ons oor die geestelike wysheid om na die wil van God te vra? Word ons lewe gekenmerk deur nederigheid en diensbaarheid en word ons denke deur dankbaarheid gerig?
God se kinders behoort diensbaar te leef uit dankbaarheid en erkentlikheid vir God se liefde en genade in ons lewe. Ons hoef nie meer bang te wees vir straf en oordeel nie, want ons is bevry van wette wat ons slaafs moet volg om ons verlossing te verdien. Jesus Christus het ons vrygekoop aan die kruis. Ons is sy kinders alleen uit genade, maar is dít wat die wêreld raaksien wanneer hulle na ons kyk?
Mag die woorde van Gesang 440: 4 waar wees van ons lewe: Wie hul laat lei deur God se Gees, leer iets van Christen-wees – Hy leer ons bid, getuig en dien en liefhê sonder vrees.
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes