Openbaring 12 (AFR2020)

Een van die kernvrae wat Johannes vir die sewe gemeentes in Klein-Asië beantwoord, kan soos volg verwoord word: Waarom, in ’n wêreld waar God heers, lyk dit of die bose so magtig en sterk is? Johannes bied in Openbaring 12 vir die gemeentes, asook vir ons vandag, ’n besonderse antwoord op hierdie vraag.

In Openbaring 12 word die bose voorgestel met die beeld van ’n groot vuurrooi draak (Op 12: 3). Van die begin af is dit duidelik dat hierdie draak teen alles is waarvoor die koninkryk van God staan. Die draak is daarop uit om die skepping van God te vernietig en so dood in die wêreld te bring (Op 12: 4). Verder vertel Johannes dat hierdie draak nie net teen die vrou en haar kind vyandig staan nie, maar teen God se leërskare in die hemel ook (Op 12: 7). Maar ongeag die feit dat die bose met so ’n magtige draak uitgebeeld word, sien ons van die begin af dat hierdie bose mag nie enige wáre mag het nie, nie eens teen die onderdane van God nie (Op 12: 8, 14-16).

Dit is egter nie net Johannes en die lesers wat dit besef nie; ook die magte van die bose weet dat hulle geen oorwinning kan behaal nie (Op 12: 13). Hierdie wete is dan ook die antwoord van Johannes op die vraag van die gemeentes. Waarom lyk dit of die bose so magtig en sterk is? Want die bose weet hul tyd is verby, hulle weet dat God hulle reeds oorwin het en dat hulle nooit sal kan wen nie.

Alles word treffend opgesom in die himne in Openbaring 12: 10-12. Daar word gesê dat die ryk van God en Christus reeds aangebreek het, dat die aanklaer uitgegooi is en dat die gelowiges hom reeds oorwin het. Ons kan vandag ook seker wees daarvan dat die bose geen mag meer het nie, God het reeds met die bose afgereken en niks kan hierdie waarheid verander nie.

Gesang 590: 2

Ds John Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link