Handelinge 2: 1-13

Daar is geen manier waarop ’n historikus vandag die gebeure van die eerste Pinkster kan rekonstrueer nie. Dit is egter ’n feit dat daar nie meer berigte was oor die opgestane Heer se verskyning aan sy dissipels nie. Tog was daar by sy volgelinge ’n duidelike gewaarwording van sy voortgesette teenwoordigheid – sy krag was dus nog aktief in die wêreld. Die Christelike tradisie beskou hierdie eerste Pinkster as die stigting van die kerk, en met reg ook, as ’n skepping van die Heilige Gees. Die bewuswording van die werking van die Gees in die vroeë kerk word sterk verbind met die ervaring van die verhoogde Christus se voortgesette teenwoordigheid.

Nadenke oor die Heilige Gees vertoon ’n parallel met nadenke oor Christus. Christus was pre-eksistent, Hy het al bestaan nog voordat Hy as mens gebore is (vgl Joh 1: 1). Net so is die Heilige Gees ook pre-eksistent, Hy het vóór die eerste Pinkster reeds bestaan: Hy was teenwoordig by die skepping en ook in God se dade van die Ou Testament. Met die eerste Pinkster is die Heilige Gees uitgestort, en Hy woon en werk ook in elkeen van ons. Dit is God self wat my deur sy Gees van sy liefde en vergifnis verseker, anders sou ek altyd getwyfel het. Dieselfde God wat sy mag in die sterrehemel laat blyk, dieselfde God wat sy Seun vir die sonde van die wêreld gegee het – dit is Hý wat die verlossing en vrede in my hart indra deur die werking van sy Gees.

Die eenheid van Vader, Seun en Gees bring sekerheid in my wankelmoedige hart. Dit is vir ons Vader nie genoeg dat ons eers ná ons dood die groot verrassing moet kry dat ons sondes vergewe is nie. Sy liefde vir ons is te groot dat Hy sal toelaat dat ons lewenslank in vrees, twyfel en onsekerheid leef. Daarom gee Hy nou reeds sy Gees as Waarborg van alles wat ons nog sal ontvang.

Gesang 432: 1

Ds Petri de Kock, Pierneef

af
af
Deel met behulp van
Copy link