Johannes 3: 1-21

Ons samelewing bestaan uit groepe en ons elkeen behoort aan die een of ander groep. Het jy al ooit gevoel dat jy met die een voet in die een groep is en met die ander by ’n ander groep? Nikodemus het so gevoel toe hy as Fariseër goedgesind was teenoor Jesus. Die Fariseër-groep sou nie baie ingenome gewees het as hulle dit uitgevind het nie. Hulle het Jesus se lering as dwaalleer gesien. En hier kom een van hulle en noem Jesus “leermeester”.

Nikodemus het gesien dat Jesus die Gestuurde van God is omdat Hy die Skrifte goed geken het en wondertekens gedoen het. Jesus sê dan vir hom dat hy opnuut (eintlik “van bo”) gebore moet word om God se koninkryk te kan sien. Maar dit maak nie vir Nikodemus sin nie. Dit is maar menslik om nie te verstaan nie. Aards. En dit is die punt wat Jesus wil maak. Iemand moet ’n “hemelse” geboorte hê voordat hy of sy kan begin om die dinge van God se koninkryk raak te sien. Op ’n manier is ons as gelowiges tegelyk met die een voet in die aardse en die ander voet in die hemelse. Nikodemus kon darem al besef dat Jesus anders is as die aardse dinge en mense. So was hy alreeds in die proses van gebore word van bo af.

Ons vier vandag, met Drie-eenheidsondag, God Drie-enig se oorwinning en sy liefde vir ons. Sonder God sou ons verlore wees, maar tog het God die Vader ons so lief dat Hy bereid was om sy Seun te offer in ons plek, om ons oordeel op sy skouers te neem. Daarom kan ons opnuut van bo gebore word deur die werking van die Heilige Gees. My bede is dat ons al hoe meer God se koninkryk sal raaksien en daarvolgens sal leef.

Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap