Lukas 17: 1-10

Alhoewel geloof ’n persoonlike verhouding met God impliseer, is dit nooit net ’n persoonlike saak wat jy privaat net op jou eie bedryf nie. Jesus hou sy dissipels verantwoordelik vir die mense wat pas tot geloof gekom het. Daar kan so maklik dinge opduik wat sulke mense laat struikel. Die gemeente is die liggaam van Jesus Christus. Al die lede van die liggaam het mekaar nodig om saam die pad van die geloof te loop. Daar moet deurlopend ’n sensitiwiteit vir mekaar se uniekheid en andersheid wees. Dit is so maklik om deur ons ondeurdagte optrede mense wat nog broos in die geloof is, te laat struikel. Jesus maak ’n harde uitspraak dat dit vir mense wat die oorsaak van die struikeling is, beter sal wees as hulle met ’n klip om die nek in die see gegooi word. Daarmee beklemtoon Jesus die erns van die saak.

Eweneens beklemtoon Hy die belangrikheid van vergifnis, ’n baie belangrike Christelike deug. Geloof en vergewensgesindheid hoort bymekaar soos asemhaal en lewe. Die een kan nie sonder die ander nie. Om te vergewe, het nie grense nie, dit hou nie op nie. Dit is ook nie beperk tot sekere kategorieë van mense nie. Die sewe maal moet nie letterlik verstaan word nie, dit bedoel dat daar nie ’n kloof en vyandskap tussen gemeentelede moet bestaan nie. Daar is nie ’n grens aan Christelike liefde nie.

Bewus van die groot uitdaging wat dit vir die gelowige inhou, vra die dissipels die Here vir meer geloof. Dit is asof hulle wil sê die onmoontlike word van ons verwag. Gee ons geloof om dit te kan doen! Met die beeld van die mosterdsaadjie en moerbeiboom, wil Jesus vir hulle sê: Hoe klein die geloof ook al is, dit het krag wat onuitspreeklik is.

Net soos ’n slaaf nie kan verwag om na ’n dag se harde werk direk vir die ete te kan aansit nie, maar eers self die ete moet voorberei, geld dit ook vir die volgelinge van Jesus. Dit gaan nie oor beloning en dank nie, maar om beskeidenheid en te bly doen wat gedoen moet word.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link