Jesaja 33: 2
Wees ons genadig, Here, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van nood.
Israel is in hierdie stadium verpletter! Hulle is in ’n diep gat van desperaat-heid oor hul situasie en ballingskap. Die eens magtige volk van God is weggevoer in ballingskap, en dit was nie net vir hulle ’n groot vernedering nie – dit het ook ’n magtelose desperaatheid by hulle tot gevolg gehad. Jesaja beskryf hierdie situasie volledig. Die profeet tree op, en tree namens die volk in in hierdie donker tyd van hul bestaan. Die noodkreet in vers 2 is ook sprekend van die nood van baie mense, volke en nasies – ook gesinne en individue.
Hierdie noodroep begin met ’n gebed, ’n uitroep! Die eerste versoek en behoefte is dat God hulle moet raaksien waar hulle in die donker gat van desperaatheid beland het. Wat hulle van God vra, is nie allereers om hulle daaruit te bevry nie – hulle pleit om sy genade. Dan sien ons hulle in die donker gat, roepend na God se genade met die sekerheid dat Hy hulle vashou en dat hulle hul hoop op God kan vestig.
Dalk is ons nou ook waar die ou Israel was? In ’n put van desperaatheid. Daarom moet en kan hierdie gebed ook ons gebed wees en kan ons dit in ons konteks plaas: Here, wees ons genadig. Ook hier in ’n wêreld wat gebuk gaan onder onvrede en talle bedreigings. Midde-in ons omstandighede vestig ons ons hoop op God. Ons gaan sit nie in die hoek en huil oor ons situasie nie! Ons kyk vorentoe, ons kyk op, en ons is hoopvol, omdat ons hoop gevestig is op ons God wat werklik lewe. Daarom kry ons ook elke dag nuwe krag om voort te gaan, uit te hou, deur te druk, en ons dae as mooi en sinvol te beleef.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos
