Filippense 1: 12-19

Die gemeente in Filippi moes seker ’n brief wat spreek van moedeloosheid en teleurstelling verwag het, want Paulus was immers in die tronk met ’n moontlike doodvonnis. Dis nie al nie. Daar was mense wat hom loop en swartsmeer het onder die dekmantel dat hulle die evangelie verkondig. Tog straal Paulus se brief van blydskap en dankbaarheid. Hoe kry hy sulke blydskap en dankbaarheid reg onder dié moeilike omstandighede?

Dit lyk of die antwoord lê in vers 21: …om te lewe, is vir my Christus… (Ou Vertaling: Vir my is die lewe Christus…). As dit so is, kan hy die tyd in die tronk op ’n besondere manier beskou. Dit is ongemaklik, pynlik, maar hy kry ’n geleentheid daar om Christus, sy lewe, te verkondig, en dat almal daar kon sien wie hy, Paulus, werklik is: ’n gevangene ter wille van Christus. Hy het rede gehad om bly wees omdat hy kon waarneem hoe hul vertroue en vrymoedigheid gegroei het.

Oor die mense wat met selfsugtige en onsuiwere bedoelings die gevangenskap vir hom nog swaarder wou maak, kan Paulus eintlik bly wees. Hulle verkondig tog ook Christus, en Christus is sy lewe. Hulle gebruik energie om sy lewe te verkondig!

Word ons blydskap nie soms te maklik van ons af weggeneem deur die figuurlike tronke in ons lewe nie? Word ons nie te vinnig moedeloos as dinge ongerieflik en ongemaklik word en teen ons wense en begeertes plaasvind nie? Wat doen negatiewe woorde of dade van jaloerse en selfsugtige mense aan ons? As Christus lewe is, kan ons nie so maklik in sak en as gaan sit en kla oor die onregverdigheid van alles en almal nie. Ons mag die verwagting hê van iemand wat weet van oop deure waar ander toegaan, en om telkens te ontdek hoe belangrik ons is in die oë van Hom vir wie ons lewe en by wie ons regtig saakmaak.

Dr Piet van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link