1 Tessalonisense 4: 13-18:

Die wederkoms van Christus is ’n belangrike tema in die briewe van Paulus. Die vroeë Christene was oortuig dat hulle in die eindtyd geleef het en dat die Here enige oomblik weer sou kom. Toe die Tessalonisense vervolg en verdruk is, het hulle hul hoop daarop gevestig, maar toe die wederkoms nie so gou gekom het soos hulle verwag het nie, word hulle gerusgestel: Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. By die wederkoms gaan al die gelowiges deel hê aan die triomftog van Jesus Christus. Hulle sal eers deel in die opstanding uit die dood, en dan ook deel in die hemelvaart saam met die Here om ewig by die Here te wees.

Nadat Paulus oor die wederkoms van die Here gepraat het, volg ’n belangrike opdrag: Troos mekaar dan met hierdie woorde. Vertroosting en bemoediging is kenmerkend die werk van die Heilige Gees. Hy is die Trooster wat deur Christus gestuur is om in gelowiges te werk en hulle aan te spoor om mekaar ook te bemoedig en te vertroos. Die klem lê daarop dat ons as gelowiges onder alle omstandighede mekaar moet bemoedig. As medegelowiges wat ons hoop op die wederkoms van Jesus Christus vestig, is ons saam verantwoordelik om aan die blydskap van die evangelie vas te hou en saam die dag van Christus tegemoet te gaan. Weens die feit dat ons in hierdie lewe en in die lewe na die dood aan God behoort, is dit belangrik dat ons as gelowiges geesdriftig moet wees om medegelowiges te bemoedig en te vertroos en daardeur ook self bemoedig en vertroos te word.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

af
af
Copy link