Markus 4: 30-32

Dit is die dag van die Here, laat ons daaroor juig en bly wees. Gaan jy kerk toe soos al die vorige Sondae, of is daar dalk die verwagting dat dit vandag so sal wees asof dit vir die eerste keer is? Is jy dieselfde wanneer jy huis toe gaan as toe jy gekom het?

Dit kan nie so werk nie, want wie met God te make kry, kan nie onaangeraak bly nie. Die erediens is ’n ontmoeting met die lewende God, ’n hoogtepunt in ons bestaan. Die tekens is nou reeds daar. Die hedendaagse kerk en sy gelowiges wat Sondae wêreldwyd in eredienste byeenkom, is die bewys van die voortgang van die koninkryk van God, dit wat ’n aanvang geneem het toe Jesus dit aangekondig het. Die vroeë kerk het waarskynlik erg daaroor getwyfel en sou snak na hul asem om die hedendaagse omvang van die kerk van Christus te sien.

Dit word treffend verwoord in die gelykenis van die mosterdsaadjie wat oënskynlik klein en gering daar uitsien, maar uiteindelik alle ander oortref en groter word as die bome rondom, met takke so groot dat die voëls van die hemel daarin kan nes maak.

Ten spyte van allerlei oënskynlike teenspoed wat hedendaags op die kerklike werf ervaar word, verwoord die koninkryk van God buitengewone vertroosting en toekoms. Daarom gaan die kerk nie oor die kerk en die instandhouding van die kerk alleen nie. Dit kan as die Babiloniese ballingskap van die kerk gesien word as ons onder die indruk verkeer dat dit oor die kerk self gaan. Uiterlike vorme en uitwasse wat hedendaags op die kerklike werf beleef word, is nie onbelangrik nie en moet nie argeloos hanteer word nie. Dit mag nie uit die oog verloor word nie dat wat wesenlik is, nie noodwendig sigbaar is nie. Die pad vorentoe is nie ’n doodloopstraat nie, ook nie die dood nie; die koninkryk van God baan die weg tot oorwinning en raak gelowiges aan deur Woord en Gees.

Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg

af
af
Copy link