Psalm 126

Die reisigers van Psalm 126 verklaar dat toe die Here Sion se lot verander het, was dit vir hulle soos ’n droom. Hulle het gelag en gesing en verkondig: Die Here hét groot dinge aan ons gedoen; en ons was bly. Waarskynlik word hier verwys na die volk se terugkeer uit ballingskap. Israel se lot is verander van hartseer in blydskap. Op grond van God se hulp in die verlede, rig die volk nou die versoek dat God tog weer hul lot sal verander. Die nuwe realiteit waarbinne hulle hulself bevind het, was vir hulle oorweldigend. Daarom hou hulle vas aan die droom wat God vir hulle gegee het, maar hulle het ook nodig om aan ’n nuwe droom te glo.

Die volk besef dat hulle verder moet kyk as net die onmiddellike omstandighede. Hulle weet dat daar vir hulle groot aanpassings en worsteling sal wees. In vers 5 bely hulle: Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. In hul gebrokenheid hou hulle steeds vas aan die droom wat God aan hulle skenk.

In die tyd en omstandighede waarbinne ons leef, is dit nie altyd maklik om te bly volhard nie. Ons verloor maklik perspektief en die hoop vir ’n beter toekoms. Daar sal altyd stryd wees tussen die terugverlang na die verlede, die sogenaamde goeie ou dae aan die een kant, en die verwagting van of uitsien na die toekoms wat oop voor ons lê aan die ander kant. Daarom leef ons met gebroke drome. Ons bring in herinnering die tye toe ons drome bewaarheid en ons lot verander is, en ons bly glo dat God steeds in ons lewens teenwoordig is en ons daagliks wil versterk.

Die Here hét groot dinge aan ons gedoen. Dit blyk nêrens duideliker nie as in die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. Die opstanding van Christus verseker dat ons drome juis nie ydele drome of leë lugkastele is nie, ons trane juis nie ’n sinlose gekla nie. Al loop ons en huil terwyl ons die saaisak dra, kom ons juigend terug (vers 6) en ondervind ons die groot genade van God se teenwoordigheid te alle tye. So hou ons nie op droom nie, en so kan ons bly volhard.

Ds Martin Meyer, Secunda

Share via
Copy link
Powered by Social Snap