Johannes 14: 6

Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

Die vraag of jy bekeer is, is seker al die een of ander tyd vir ons almal gevra. Dan is baie van ons gewoonlik onseker, of ons probeer die vraag systap. Jy kan ook met ’n teenvraag kom en vra wat die persoon met bekering bedoel. Wat antwoord jy in elk geval? Soveel mense, soveel antwoorde, en baie daarvan is gewoonlik misleidend. Een van die misleidendste opvattings oor bekering is dat ’n mens eenmalig tot bekering kom. Bekering is ’n aanhoudende, lewenslange proses.

’n Ander verskynsel wat ons dikwels kry, is dat mense hulself bekeerdes noem en dat hulle dan begin spog oor hoe sleg hulle was, hoeveel geraamtes hulle in die kas gehad het en hoe goed en voorbeeldig hulle nou geword het – sulke super soort kinders van die Here. Hulle spog oor al die dinge wat hulle nie meer doen nie, om jou dan so half minderwaardig teenoor hulle te laat voel.

Nee, bekering het niks te doen met ons goeie of slegte dade nie. Bekering fokus nie op hoe goed of pligsgetrou ons is nie. Bekering fokus nie op ons verdienste nie, bekering fokus op die verdienste van Jesus Christus. Slegs deur sy bloed is ons slegte verlede uitgewis, en slegs deur die werk van die Heilige Gees groei die vrugte van goeie dade in ons.

Ek is duisend maal eerder vir eens en vir altyd ’n bekeerde deur die volmaakte werk van Jesus, as ’n powere mensgemaakte bekeerling deur my eie patetiese pogings. Daarvoor dank ek die Here lewenslank, dag en nag, en gee ek my lewe uit dankbaarheid vir Hom en my naaste.

Ons Vader in die hemel, dankie vir u groot genade. Dankie, Here Jesus, dat U ons kom verlos het sonder dat ons enige bydrae gelewer het.

Dr Hannes Beukes, Emeritus/Morgenzon

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link