Jakobus 2: 14-26

Julle predikante, vertel ’n woordeboekmaker my, gebruik woorde wat plons soos klippe in die water. Gebruik liewer woorde wat ’n mens soos plat klippies kan laat wip en spring op die water, woorde wat mense laat lag en bloos en huil. Dalk sien mense dan weer kans om kerk toe te kom. Daar bestaan ’n misverstand dat vroom weet en vroom wees dieselfde ding is. Vroom weet is om al die gebooie te ken, soos die Fariseërs, en ander daaraan te meet. Dit is om oor God te dink met woorde soos almagtig en alwetend, alomteenwoordig en allerheilig – ’n uitgebreide dogmatiese skema waarvan leraars én lidmate weinig verstaan.

Hier is die geheim wat die skrywer van die Jakobusbrief ontdek het: God word nie slegs geken in die wete van sy onaantasbare heiligheid nie, maar om te wees in die omhelsing van sy koesterende teenwoordigheid. Geloof is nie net om te weet nie, maar te wees. Hy gee drie voorbeelde van dade wat red:

Gee uit jou oorvloed – moenie net sê ek hoop jy kom reg nie – gee klere of komberse of kos.

Doen afstand van iets wat vir jou kosbaar is – soos Abraham wat sy seun geoffer het. God het hom regverdig gereken op grond van sy daad.

Wees beskikbaar vir die Here. Selfs iemand soos Ragab, verag deur ordentlike mense, is op grond van haar dade deur God begenadig. Weet dan, elkeen kan gered word.

Wat is ons dan, ek en jy? Is ons nie begenadigdes van God nie? Is ons nie juis dié wat verstaan dat dit nie is wat jy weet of besit wat jou juk sag maak nie, maar jou dade om die lewe vir ander weer ’n keer te vul met lig en vreugde? Sê dit saam:

Om God te ken beteken om God te dien,

om te speel met lekker woorde

soos liefde en genade, vergewing en vrede;

om dit soos klippies te laat hop op die water;

om uitbundig te leef en baie maats te hê.

Dr Piet van Staden, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link