Psalm 3

Die Psalm vertel van ’n tyd in Dawid se lewe toe dit nie baie goed met hom gegaan het nie. Dit vertel van die tyd toe Dawid van sy eie seun, Absalom, moes vlug. Dawid vlug vir sy lewe. Hy beleef hoe sy eie kind hom vervolg. In sy benoudheid en vrees vlug Dawid na God toe. Wanneer daar met hom gespot word en gesê word dat God nie vir Dawid sorg nie, weet hy die teendeel is waar. Die Here beskerm my van alle kante, getuig Dawid. Hy getuig dat wanneer hy na die Here roep, hy ervaar dat die Here hom antwoord. Dit is hierdie ervaring van God se sorg wat maak dat Dawid, al gaan dit nie goed met hom nie, moed skep, moed het – dat hy in vertroue in God verder leef.

Om goed te slaap wanneer daar spanning, bedreiging en teenspoed in ’n mens se lewe is, is nie iets wat ons almal ewe maklik regkry nie. Dikwels word slaaptyd die tyd wanneer gedagtes van hoe dinge op verskillende maniere verkeerd kan loop en kan gebeur, deur ons kop bly maal. Van goed slaap in moeilike tye is daar dan geen sprake nie. Maar by Dawid is dit anders. Hy kry dit reg om, ten spyte van dit wat hy ervaar terwyl hy vir sy lewe vlug, goed te kan slaap. Hoe kry hy dit reg? Die antwoord lê in sy vertroue in die Here. Hy maak staat op die Here en vertrou dat die Here sorg, dat die Here hom beskerm. Hy leef met die diep oortuiging dat sy hulp net van die Here af kom. Dit maak dat hy ten spyte van sy omstandighede goed slaap.

Ons kan die Here ook so vertrou. In en deur Jesus Christus, weet ons hoe ver en wyd God se beskerming vir ons strek. God beskerm ons steeds vandag van alle kante. Die Here hoor wanneer ons in ons nood roep. Die Here antwoord wanneer ons roep. Ons hulp kom net van die Here af.

Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten

Share via
Copy link
Powered by Social Snap