Lukas 19: 28-40

Uit hierdie bekende gedeelte word sekerlik jaarliks met Palmsondag gepreek. Ons ken die verhaal. Jesus ry nederig op die rug van ’n pakdier Jerusalem binne. Die skare van die platteland rondom Jerusalem ken vir Jesus. Hulle het Hom die laaste ruk gehoor praat en was geïnspireer en oortuig deur dit wat Hy gesê het.  As teken van respek en eerbied en seker ook omdat hulle sy aanspraak op die titel van Koning aanvaar, gooi hulle ou klere en palmtakke op die pad voor Hom neer. Ons kan met reg sê dat die skare Jesus se koninkryk en sy koningskap verkeerd verstaan het. Die skare het ’n aardse koning verwag en gesoek. Binne Jerusalem was die skare se reaksie ’n bietjie anders. Hulle het Jesus nie geken nie en daarom vra hulle mekaar: Wie is hierdie man? Hulle probeer uitvind hoekom die skare buite die stad so ’n geraas maak oor die man.

Hierdie man was nie soos enige koning wat hulle al gesien het nie. Die skare juig Hom toe dat Hy die koning is wat in die Naam van die Here kom, maar Hy lyk glad nie soos die magtige Dawid of wyse Salomo nie. Geen weelde, weermag of indrukwekkende optog met soldate en groot perde nie. Slegs ’n man wat die stad inkom op ’n pakdier en wat sit op ’n saal gemaak van ou klere.

Geen koning of keiser wat hulle al gesien het, het so die stad binnegekom nie. Dit was juis die punt. Jesus was en is nie ’n normale, aardse koning of keiser nie. Jesus kom konfronteer die priesterhoofde en die skrifgeleerdes met die koninkryk van God. So was Jesus se eerste daad in die stad om die tempel te reinig en mense van God se koninkryk te leer.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link