Johannes 19: 1-6

Basiese higiëne wat ons van kleins af leer, is om hande te was voor ete. Was jou hande as dit vuil is. Moenie vuil hande in jou mond sit nie. So eintlik niks ongewoon nie. Pilatus was sy hande in onskuld. Die prentjie verander so ’n bietjie en kry dieper betekenis. Drie keer proklameer Pilatus dat hy geen fout vind met Jesus nie en dat die getuienis teen Jesus nie water dra nie. Pilatus wat as wreedaard beskou is, iemand wat bekend was vir sy uiterste haat teenoor die Jode. Ja, vir hom was dit belangrik om sy hande voor ’n skare te was in onskuld oor die dood van Jesus. Dit was totaal strydig met Pilatus se karakter. Pilatus wou onder geen omstandighede skuldig wees aan die onskuldige bloedvergieting van Jesus nie. As heidense regter was hy juis die getuie van Jesus se onskuld.

Was jy jou hande soos Pilatus? Wat van ons en ons skuld? As ons niks doen of sê omtrent dit wat skeiding maak tussen ons en God nie, help al die handewas niks. Ons weet ons kan onsself nie goed maak nie, ons kan onsself nie verontskuldig of red nie, maar Jesus kies om vir ons sondes te sterf. Ons is dankbaar vir God se genade.

Jesus stap hierdie lydenspad om ons skoon te was en vry te maak. Hy wil ons help om te lewe. Jesus vra dat ons in Hom sal glo, as Gestuurde, Verlosser, Seun van God. As jy vandag in Hom glo, wéét jy jy sal nie verlore gaan nie. Ons staan egter nie onskuldig nie, so dikwels staan ons weer vuil voor Hom. Selfs al stap ek die pad saam met die Here en neem ek Jesus as my enigste Verlosser aan, plaas dit steeds verantwoordelikheid in my hande: Vir ons skulde, het God lemand gestuur Wie se hande bou, koester, help, uitdeel, uitnooi, omgee, beskerm en seën. Al die ander hande het Hom gevat en met ruwe spykers deur sy hande, Hom aan ’n kruis laat hang: Pilatus se hande, soldate se hande, ruwe hande, Skrifgeleerdes en priesters se hande, verraaiers se hande, ons hande, my hande (Reformatoriese Kerk, Hongarye).

Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap