Matteus 22: 1-14

Ons fokus vandag op die man wat by die bruilof is met die verkeerde klere aan. Dit is belangrik om te weet dat konings dikwels by sulke feeste vir die gaste bruilofsklere voorsien het. Dit was gewoonlik klere wat hulle bo-oor hul eie klere gehang het of in die plek van hul eie klere aangetrek het. Om nie die feesklere aan te trek wat voorsien is nie, is ’n teken van opstand teen die koning. Daarom die reaksie van die koning teenoor die man met die verkeerde klere aan.

In die gelykenis is die bruilofskleed wat die mense aantrek, ’n teken of simbool van die nuwe lewe of nuwe bestaan in Jesus Christus. Vir Matteus is dit belangrik dat sy gemeente besef dat die koninkryk van God oop is vir almal, maar dat om deel te wees van die koninkryk van God, ’n lewe vra wat getuig van die liefde en geregtigheid van God. Soos die bruilofsklere die teken is dat hulle deel is van die bruilofsfees, behoort dit wat hulle doen en sê teken te wees van hul nuwe menswees in Christus, teken te wees dat hulle deel is van God se koninkryk. Dat God Koning is van hul lewe.

Daarom is die vraag wat die gedeelte vir ons ook vandag vra: Watter klere het jy aan? Getuig ons lewe van ons verbintenis, ons verhouding met God, dat ons deel is van God se koninkryk? Die man by die bruilofsfees sonder die bruilofskleed aan, was by die fees, maar sy hart was nie daar nie. Dit wil vra: Waar is ons harte? Is ons harte in ons aanbidding van God? Of is Bybel lees en bid maar bloot rituele wat ons doen? Leef ons God se liefde en geregtigheid? Watter klere het ons aan?

Kom ons trek die feesklere aan wat God ons gee. Kom ons leef as die nuwe mense wat God ons roep om te wees. Kom ons dra God se liefde en geregtigheid, en bewys dit teenoor mekaar.

Dr Annelie Botha, Universiteit Pretoria / Kempten

Share via
Copy link
Powered by Social Snap