Prediker 4: 9-12
Prediker sê in ons teksgedeelte dat die individu nie alleen kan oorleef nie. Die mens wat in ’n span saam met sy medegelowiges leef, sal sterker wees. So iemand verheerlik God en vind vertroosting.
Ter wille van fisiese en emosionele ondersteuning, oorlewing en veiligheid is mense op mekaar aangewese. Ons is so geskape – ons is geskape as wesens wat slegs in ’n groep saam met ander kan oorleef. Daarom gebruik Prediker die beeld van ’n driedubbele tou. ’n Driedubbele tou is tog sterker as ’n enkele tou. Ons leef egter in ’n tyd waarin die regte van individue meer gewig dra as die regte van ’n gemeenskap. So word die huwelik en die gesinslewe verswak en die gemeenskappe waarbinne ons leef, deur ’n gees van onbetrokkenheid, kritiek, skinder en om die eie voordeel te soek, gekenmerk.
Wanneer ’n mens alleen bid, word jy dikwels gou moedeloos. Maar as twee of drie saambid, kry jy die krag en geloofsmoed om aan te gaan.
Haal een kooltjie uit ’n vuur en kyk hoe gou dit doodgaan. Die kooltjie het ander kooltjies nodig om warm te bly. Ons het die gemeenskap van gelowiges nodig om te volhard. Ons het geloofsvriende nodig om mekaar te dra. Hulle kan vir my bid en ons kan vir mekaar omgee.
Jou bydrae kan ’n verskil maak aan jou geloofsfamilie se welsyn. Daar is duisende mense wat sukkel om hul swaar vrag probleme gedra te kry, en jy kan waarskynlik net genoeg krag byvoeg om hul probleem op te los. Deur jou emosionele ondersteuning kan jy iemand help met hul probleem.
Kom ons bid dat God ons eensgesind sal hou in ons verhoudings, in die gemeenskap en in die Kerk. Dit bring ware troos, want ’n driedubbele tou breek nie maklik nie.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos