Matteus 10: 32-39

’n Mens kan seker nie sê voordat die oomblik aanbreek nie. Geen mens kan vooraf besluit of jy ’n held of ’n lafaard gaan wees wanneer ’n krisis breek nie. Die oomblik sal dit bepaal. Deur die eeue was daar baie gelowiges wat op ’n beslissende oomblik getrou gebly het aan hul geloof in die aangesig van ’n krisis, selfs van die dood.

Jesus se woorde in die teksgedeelte spoor die dissipels aan om getrou te bly tot die einde. Hy maak dit duidelik dat geloof ’n beslissing vereis: óf vir óf teen Hom. Hy gee egter die versekering dat die beloning vir getrouheid hemelse gevolge het. Hy herinner hulle hoe kosbaar geloof in Jesus Christus vir hulle is, selfs belangriker as hul eie lewens. Hul geloof het hulle krag gegee om tot aan die einde getrou te bly. Dit was verstommend hoe hulle, skynbaar magteloos teen tiranne en heersers, kon bly hoop en sing omdat hulle geweet het dat alle mag in die hemel en op die aarde aan Jesus alleen behoort. Daarom het hulle enduit volhard.

Ons beleef toenemend die spanning in ons wêreld, onder andere dat ons keuse vir Jesus Christus lyding, krisisse en swaarkry insluit. Alhoewel daar genadiglik nie meer brandstapels of kruisigings is nie, is daar talle voorbeelde rondom ons van gelowiges wat gemartel en doodgemaak word. Dink ’n bietjie aan gelowiges wat baie erger lyding en verskrikking ervaar het en vol geloofsekerheid getrou gebly het. Dit bevestig opnuut dat ons verhouding met Jesus Christus belangriker is as ons eie lewens en dat ons krag sal ontvang om staande te bly.

Vrese dat die toekoms moeilik gaan wees en lyding gaan inhou, word besweer, want in Christus vind ons krag in lyding. Indien ons die lewe ter wille van Hom verloor, het ons die vesekering dat ons dit sal behou.

Ds Danie Taljard, Sionshoogte

af
af
Deel met behulp van
Copy link