Jesaja 2: 4-5; Sagaria 9: 10

As ’n mens die Ou Testament selektief lees, kan jy nogal verlei word om te dink dat God ’n wrede, bloeddorstige God is wat voortdurend net wil oorlog maak. Daar is egter ook ’n ander deel van die prentjie van God wat in die Ou Testament geskilder word. ’n God wat die oorlogsperde wil verwyder, wat die oorlogswapens sal vernietig en wat die volke in vrede wil laat woon (Sag 9: 10). Hierdie God wil toesien dat swaarde gesmelt word om ploegskare van te maak. Spiese moet eerder snoeimesse word (Jes 2: 4-5.) Oorlogsugtigheid en wraaksug staan onder die oordeel van God. So het die profeet Hosea Jehu berispe vir die bloedbad teen Agab.

Dit is veral toe Jesus die aarde bewandel het dat God se afkeer van wraak en geweld duidelik geword het (Matt 5: 39-42). Gelowiges word aangemoedig om nie konflik te begin nie en eerder vrede na te streef. Om die ander wang te draai as jy geslaan word, om die bokleed saam met die onderkleed af te staan. Om te gee as jy gevra word, is blykbaar Christelike familietrekke. Vergelding, wraak en enige optrede wat vrede versteur, staan onder God se oordeel. Juis daarom noem Jesus die vredemakers salig.

Om die Here se vredemaker te wees, beteken dat ek saam met Hom swaarde en spiese sal omskep in ploegskare en snoeimesse. Miskien is die vraag wat ek aan die einde van elke dag vir myself moet vra, dít: Wat van dit wat ek vandag gedoen het, het soos ’n ploegskaar help lewe gee? Wat het (soos ’n spies) bygedra tot die beskadiging van die lewe? Die manier waarop ek my vrou geantwoord het, of die woorde waarmee ek my kollega stilgemaak het? Die manier waarop ek my pa geantwoord het, of hoe ek teenoor my kind opgetree het? Het ek mense om my verwond met my optrede, of het ek ’n stukkie land voorberei waarop vrede gesaai kan word?

Here, maak my ’n instrument van u vrede. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link