Job 3

Ai, as ek nie gelewe het nie, sou ek nie hierdie bitter lyding ervaar het nie… Hoeveel mense het nie al so na uitkoms gesmag nie! So wens Job ook hier waar die lyding net te veel word. Met treffende beeldspraak wens hy dat die dag waarop hy gebore is, nooit aangebreek het nie. Volgens die antieke denke was die dag van jou geboorte vooraf bepaal. As daardie dag nie aangebreek het nie, sou sy geboorte nie plaasgevind het nie. Job wens – as iets tog net kon verhinder dat die son op daardie dag opgekom het… As Leviatan die dag kon vernietig… Leviatan, die mitiese seemonster, was die bewerker van chaos wat die skepping wou verhoed. Maar God het hom verslaan en toe orde geskep vanuit die chaos, so lui die mite. Maar sê nou net die Leviatan kon daardie dag vernietig, dan was ek mos nie gebore nie, dink Job. 

Maar daardie dag hét aangebreek. Daarom Job se tweede wens – was ek maar doodgebore, of sonder ’n moeder wat my kon versorg ná geboorte. Ja, so tipies mens het Job van al die jare se voorspoed en seën vergeet waar hy nou met die lyding worstel. Dit wat ons nou ervaar, is mos die belangrike. En as dit nou sleg gaan, maak gister nie meer saak nie!

Ons verstaan sy worsteling, sulke lyding is immers nooit maklik nie. En ek dink God verstaan ook ons geloofsworsteling in sulke tye. Wat wel opval, is dat Job, in sy worsteling, die hele tyd oor God praat, maar nooit met God nie. Die wonder van ’n lewe in ’n verhouding met God is tog juis dat ons in ons nood na Hom mag gaan, in ons worsteling ook met Hom mag besig wees, en in ons pyn ons harte voor Hom mag uitstort. Christus se geboorte het ons immers verseker dat God met ons is, in voorspoed en in nood. Mag ons nooit vergeet nie om in ons voorspoed en nood meer met Hom as oor Hom te praat!

Ds Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link