Lukas 5: 1-11

Die manne is moeg. Simon en die dissipels by hom was heelnag uit op see sonder om ’n enkele vis te vang. Toe Jesus by hulle kom, was hulle besig om die visnette skoon te maak. Hierdie manne was vissers van beroep en daarom het hulle met groot sorg na hul nette omgesien, want sonder nette sou daar geen inkomste wees nie.

’n Mens kry die indruk dat Simon geïrriteerd is met Jesus se versoek dat hulle weer die nette in die water moet werp, wanneer hy sê: Meneer, ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang. Ons kan tog iets van Simon se irritasie verstaan. Na ’n hele nag op see is daar niks gevang nie, en die nette is dan nou net klaar skoon- en reggemaak.

Ten spyte van Simon en die dissipels by hom se moegheid, gehoorsaam hulle tog Jesus se versoek. Hulle gooi die nette weer uit en vang ’n groot klomp vis. Soveel dat hul nette wou skeur.

As ons in Simon en die ander dissipels se skoene was, hoe sou ons geantwoord het as Jesus vir ons daardie opdrag gegee het? Hoe reageer ons vandag op Jesus se roepstem? Is ons teësinnig en ignoreer ons sy roep vir solank ons kan? Stel ons uit om te antwoord, of het ons eers tyd nodig om te besin hoe en wanneer ons gaan reageer? Of is ons soos die dissipels wat, nadat hulle met die groot vangs aan wal gekom het, alles net so gelos het en Jesus se volgelinge geword het?

Gebed

Here, vergewe ons wanneer ons teësinnig is om dit waarmee ons besig is, neer te lê en U te volg wanneer U ons roep. Maak ons ore en harte oop sodat ons sal hoor wanneer U roep; dat ons u hande en voete sal wees waar U ons nodig het.

Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes

Share via
Copy link
Powered by Social Snap