Lukas 5: 1-11 (AFR2020)

Tot op hierdie punt in die Lukas-evangelie het Jesus in die omgewing van Nasaret en Kapernaum net gepreek, mense genees en bose geeste uitgedryf. Hierdie dade het mense baie beïndruk. Maar hier in ons teksgedeelte vind ons nou die eerste keer dat Jesus spesifiek vir mense vra om Hom te volg.

Die vertelling begin waar Jesus langs die See van Galilea (oftewel die Gennesaretmeer of See van Tiberias) is. Wanneer die skare mense rondom Hom saamdrom om te hoor wat Hy sê, leen Jesus Simon (Petrus) se skuit om ’n entjie weg te beweeg op die water en die skare mense toe te spreek. Soos wat die vertelling ontvou, sien ons dat Jesus vir Simon vra om dieper op die water uit te gaan en die visnet uit te gooi. Aanvanklik wanneer Jesus vir Petrus vra, huiwer Petrus. Hulle het pas teruggekom nadat hulle die hele nag iets probeer vang het. Ek kan net dink hoe moeg hulle was en dat hulle net huis toe wou gaan. Maar dalk het Petrus gedink aan Jesus wat sy skoonma genees het. Miskien moet hulle tog maar doen wat Jesus vra? Simon Petrus gooi dan sy nette uit en vang so baie vis dat sy nette wil skeur, en hy het hulp nodig om dit in die boot te kry.

Petrus doen wat Jesus vra en ontdek dat die lewe verrassings vir hom inhou. Deur te doen wat Jesus van hom vra, ervaar Petrus ’n epifanie van God. Ons lees: Verwondering het hom en almal saam met hom aangegryp (vers 9). Petrus besef sy eie kleinheid en gebrokenheid voor hierdie groot Here wat voor Hom staan.

God tree in elkeen van ons se lewens op. Dikwels openbaar God Homself aan ons in die gewone en alledaagse dinge van ons lewens. Mag ons dit ook onthou, en daarom Jesus se uitnodiging om Hom te volg en te maak soos wat Hy vra aanvaar, en daarmee saam verras word deur alles waartoe God in staat is.

Ds Erika Ferreira, Bellville

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link