Psalm 126

Vers 4 van hierdie Psalm is soos ’n spilpunt waarom die res van die lied draai. Die verse wat dit voorafgaan, loop oor van vreugde en verwondering. Dié wat daarop volg, maak die moontlikheid oop dat trane, weens bepaalde omstandighede, tog nuwe lewe en vreugde inhou. Wat sou hierdie Psalm, nie net vir die nuwe jaar nie, maar vir die geloofsreis van ons lewenspad, vir ons inhou?

Die pleidooi van die digter (vers 4) dat die Here weer die lot van sy volk sal verander, kom ook voor in ander Psalms (14: 7; 53: 7; 85: 2), by die profete (Jer 30: 3, 18; Eseg 29: 14) en Job (42: 10). Dit dui telkens op redding uit ’n bepaalde situasie of omstandighede, byvoorbeeld die terugkeer uit die Babiloniese ballingskap, maar sluit ook herstel en heling van menswees in. Die uitdrukking soos hier gebruik, impliseer dat dit vir die Psalmdigter ten diepste gaan oor die heil van sy mense, die verlossing van sonde wat alleen moontlik is deur die genade van God. Dit gaan dus hier nie net oor die bevryding uit die gevolg van hul sonde, byvoorbeeld die ballingskap nie, maar oor die verlossing uit die mag van sonde. Dít is ’n genadewonder wat net God kan doen, soos wat God die strate tussen die duine van die dorre Negev-woestyn in waterstrome kan verander.

Die Psalmdigter, en ons, kan dit waag om met hierdie smeking na God te gaan: Hy dink terug aan die groot reddingsdade van God in die verlede, wat hom en sy volksgenote met verwondering en dankbare blydskap vervul – selfs die ander nasies moes erken dat die Here groot dinge aan Israel gedoen het. Met so ’n genadige God kan die sondaar dit waag!

Die treffende spreekwoord (verse 5 en 6), ontleen aan die landboukultuur, bevestig dat God wonderbaarlik nuwe lewe gee! Uit die saadkorrel wat eers in die grond moet sterf, spruit daar nuwe lewe voort. Leef dan, ook in swaarkry, hoopvol en met vreugde, want jy het deel aan die kruisiging en opstanding van ons Here, Jesus Christus.

Ds Japie Coetzee, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link