1 Samuel 2: 11-12, 18-26
In 1 Samuel 2 word die lewens van Eli se seuns met dié van die jong seun Samuel gekontrasteer. Hofni en Pinehas was gereelde kerkgangers, ampsdraers wat bepaalde funksies in die tempel vervul het. Maar, so vroom as wat hul lewens binne die tempel was, so goddeloos was dit buite die tempel.
In sterk kontras teenoor Eli se seuns, die lewe van Samuel. As jong kind het hy ’n groot agterstand teenoor die priesterseuns gehad. Hy kom uit ’n huis waarin daar baie konflik was. Sy pa, Elkana, se twee vroue – Hanna en Peninna – was in ’n bittere stryd gewikkel om die guns van hul man te wen. Die kinderlose Hanna het die konstante spot van Peninna ervaar, en wanneer sy later tog swanger raak, moet die jong seun Samuel by ’n wildvreemde priester in ’n onbekende omgewing sy pad vind.
Samuel se verhaal het al die elemente wat hom kon laat ontspoor het. Tog is Samuel se lewe een waarin hy ’n ongelooflike pad met God loop, en sou hy ’n baie betekenisvolle profeet en geestelike leier in Israel word. Die rede vir laasgenoemde loop soos ’n refrein deur die vertelling van die skrywers van die Samuelboeke: Samuel het die Here gedien. In die oorspronklike Hebreeus staan daar eintlik: Samuel het voortdurend sy lewe in ooreenstemming met die wil van God gebring. Samuel se ingesteldheid word mooi verwoord in sy beroemdste woorde: Spreek, Here, want u dienskneg luister.
Wat vra die Here van ons? Sekerlik dan meer as om kerklike handelinge uit te voer soos Eli se seuns wel gedoen het. Hy vra ’n lewe van algehele toewyding en gehoorsaamheid. Om Hom van harte te dien en so sy bruikbare instrument te word wat tot ’n lewe van getuienis kan lei.
Watter wonderlike evaluasie van Samuel se lewe: Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie (1 Sam 3: 19).
Gebed
Here, help my om U werklik en van harte te dien en so ’n bruikbare instrument in u hand te word.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort
