2 Kronieke 13: 1-22 (AFR2020)

Almal hou nou maar eenmaal daarvan om te hoor van iemand wat teen alle verwagtinge in goed doen nadat almal hom of haar afgeskryf het.

Almal het Moses afgeskryf, almal behalwe God – die Egiptenare het dit behoorlik ontgeld. Almal het Gideon se 300 man afgeskryf, almal behalwe God – die Midianiete het dit behoorlik ontgeld. Almal het die blinde Simson afgeskryf, almal behalwe God – die Filistyne het dit behoorlik ontgeld. Almal het Dawid afgeskryf, almal behalwe God – die reus Goliat het dit behoorlik ontgeld.

In 2 Kronieke 13 lees ons van koning Abia van Juda wat oorlog maak teen die oormag van koning Jerobeam van Israel. Almal het Abia afgeskryf, almal behalwe God – Jerobeam en sy weermag het dit behoorlik ontgeld. Ons lees dan in vers 18: Die Israeliete is by dié geleentheid verneder, en die Judeërs het die oorhand gehad, omdat hulle op die Here, die God van hulle voorouers, gesteun het.

Dalk voel jy ook soms of jy nie na waarde geskat word nie. Het iemand jou ook al te gou afgeskryf? Eintlik maak dit min saak, want die heel belangrikste is: God sal ons nooit afskryf nie. Hy dink jy is fenomenaal – en dit maak ’n reuseverskil. Dalk voel dit asof alles teen jou tel. Maar vir God tel jy – en dit maak ’n reuseverskil. Dalk voel dit of ’n oormag teen jou stelling inneem. Maar saam met God is jý die oormag – en dit maak ’n reuseverskil.

Maak nie saak hoe groot die agterstand is wat jy moet inhaal nie, ongeag wie en wat jy verloor het langs die pad, al is jy beseer, gewond, siek of oorweldig en al lyk die struikelblokke onoorkombaar, moenie jouself afskryf nie – want God het jou nog lank nie afgeskryf nie. God skryf jou nie af nie, Hy skryf jou aan – hoog aan! Hy het ’n plan en jy pas netjies in by daardie plan. Hy kan en wil en gaan ook groot dinge vir jou en deur jou doen. Wees gereed – en steun op Hom. Dit maak die verskil.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap