Johannes 3: 1-21
Die verskillende invalshoeke wat mense het oor verlossing en wedergeboorte, kan ons nogal deurmekaar maak en baie laat wonder. Tog is dit een van die belangrikste dinge waaroor ons vrede moet vind. Dit was hierdie vrede wat Nikodemus ook wou hê. Nikodemus, wat self ’n skrifgeleerde was, het een nag na Jesus toe gekom, waarskynlik omdat hy Jesus hoor praat het en ook gehoor het van die wonders wat Jesus gedoen het. Hy moes vrede oor sy geloof kry. Nikodemus se vraag wat ons nie hier lees nie, was waarskynlik: Wat moet ek doen om gered te word, of om in die koninkryk van God te kan ingaan?
Nikodemus was glad nie voorbereid op die antwoord wat Jesus hom gegee het nie. Jesus sê dat geen mens die koninkryk sal ingaan tensy hy weer gebore word nie. Die Fariseërs het geglo dat die mens gered word op grond van die dinge wat hy doen. Deur streng volgens die wet te leef, moes die mens homself red. Nikodemus het die wet van God op die punte van sy vingers geken en hy het sy lewe daaraan gewy om hierdie dinge te probeer doen, en nou kom Jesus en sê dat dit nie in sy hande is nie.
Wedergeboorte is om nuut gemaak te word deur die Gees van God. Jesus vergelyk hierdie geloofsgebeure met die waai van die wind. Die Gees se werking is groter en anders as wat ons met ons menslike verstand kan vaspen. Jesus verduidelik dat dit die Gees is wat ons nuut maak. Ons redding kom deur God se genade, omdat Hy ons liefhet.
Johannes skryf baie oor geloof. Geloof is om te aanvaar wat ons nie kan sien nie. Ons kan die Gees van God nie sien nie. Ons kan alleen in Hom glo. Ons kan die redding in Jesus Christus nie bewys nie. Ons kan dit alleen glo. Dit is die wonder van geloof. God gee dit vir jou, omdat Hy die God van genade is.
Aanvaar hierdie geloofswonder, en vind vrede!
Ds Manda le Roux, Weskus
