Psalm 116: 1-19 (AFR2020)
Die digter van Psalm 116 bevind hom in doodsgevaar. Hy is benoud en bekommerd. Hy roep: Ag, Here, red tog my lewe! Hy dank die Here vir sy verlossing. Hy reageer op die Here se verlossende genade met vurige liefde. Hy bely: Ek het die Here lief, want Hy luister na my stem, my smeekgebed. Hy bring dankoffers aan die Here. In die openbaar, saam met familie en vriende, saam met medegelowiges, loof en dank hy die Here by die tempel.
God is bewoë oor ons ellendige situasie. In die oë van die Here is die dood van sy troue volgelinge ’n duur verlies (Ps 116: 15). Die Here sien ons nood raak. Hy hoor ons gesmeek en help ons in ons moedeloosheid en ellendige toestand. Hy doen dit finaal. Hy stuur sy Seun om vir ons sonde te boet. Die mag van die dood en sonde is verbreek. Daarvan getuig die evangelie van Jesus Christus. Deur die werk van die Heilige Gees word hierdie sekerheid in ons harte vasgelê.
’n Mens wat in God glo en op Hom vertrou, leef met ’n nuwe passie en lewensvreugde. Oor die môres en oormôres van die lewe straal ’n nuwe lig. Omdat God ons reeds gered het, kan niks ons ooit van Hom skei nie. Ons mag en moet bid dat die Here ons hier op aarde ook sal seën en alle gevare van ons sal weghou. Ons is oorstelp van dankbaarheid. God hoor ons gebede. Hy skenk nuwe lewe. Al voel ons partykeer vasgeloop en selfs bang. Al voel dit asof daar nie hoop is nie, asof die ellende in hierdie wêreld ons oorweldig, ons kan tot rus kom. Die Here is genadig en barmhartig. Hy doen goed aan ons. Hy het goed aan ons gedoen. Ons kan van harte bely: Ek het die Here lief! Hoe kan ek die Here vergoed vir al sy goeie dade aan my?
Halleluja!
Ds Willem Kok, Potchefstroom
