Johannes 1: 29-34

Vir almal van ons is een van die moeilikste dinge om reg te kry, om die mindere te wees. Dit is so ’n wêreldse uitkyk: Ons wil die laaste sê hê, wil erkenning hê en gun nie altyd ander wat ons onsself toe-eien nie. Dit is nie as sodanig net verkeerd nie, maar dit kan so maklik ongemaklik raak en verhoudings vertroebel.

Johannes is besig om mense te doop oorkant die Jordaan in Betanië. Hy word gereken, en die Jode stuur priesters en Leviete om hom te vra wie hy is. Hulle vra of hy Elia is of die Profeet. Johannes ontken dit heftig, hy is nie die belangrike een nie. Die volgende dag sien hy Jesus aangestap kom en sonder huiwering sê hy: Dáár is die Lam van God… Al dink die mense Johannes is die belangrike een wat doop en die boodskap van die Seun van die Vader uitdra, gee hy al die eer en erkenning aan Jesus.

Dit is een van die uitstaande kenmerke van die dienaar van Jesus Christus: Geen geleentheid om van Jesus Christus te getuig word nagelaat nie. Ook al sou u en ek gereken word en deur mense raakgesien word as iemand wat gelowig lewe en die Here dien, doen ons dit tot sy eer alleen en gebruik ons elke geleentheid om te sê: Dit is vir die Here. U en my hele lewe word ’n lewe van getuienis deur woord en daad dat Jesus Christus die Koning is. Hy wat aangekondig word as die Lam van God, is die Koning op wie u en ek verlangend wag.

U, Here, is ons Koning – Een wat met mag regeer.

U onderdane lofsing en buig hul voor U neer.

Groot is u Naam en heilig, getrou is U en goed.

U, Here, is ons toevlug – die God wat ons behoed.

(Gesang 470: 1)

Ds Leon Geel, Grimbeekpark

af
af
Deel met behulp van
Copy link