2 Korintiërs 5: 1-10

Die aardse lewe is maar baie broos. Niks is permanent en onveranderlik of onverganklik nie. Ook nie ons aardse lewens nie. Dit kom ook tot ’n einde, soms skielik, andere kere dalk na ’n lang en uitmergelende siekte. Ons kan die dood biologies definieer, maar nie die misterie van die lewe na die dood nie. Dit word ’n geloofsaak, ons glo aan iets wat nie op ervaring of wetenskaplike navorsing gegrond is nie.

Die apostel Paulus probeer iets hiervan verduidelik aan die hand van die ambag wat hy beklee het en waarmee hy van tyd tot tyd sy brood verdien het. Hy was ’n tentmaker, en ’n mens kan net dink hoe hy, terwyl hy met naald en garing aan die werk was, gewonder het wat met hierdie tent gaan gebeur as hy klaar is. Iemand wat met sy skape agter weiding en water aan trek, gaan die tent waarskynlik koop. Vir lank gaan die tent dalk staan en skuiling bied aan sy eienaar, maar deur wind en weer gaan dit verinneweer word, totdat dit uiteindelik tot niet gaan. Dan is daar niks van die tent oor nie.

’n Mens se aardse lewe is soos ’n tent, sê hy. Maar wanneer daardie tent afgebreek is, is dit steeds nie die einde nie. Daardie geloof waaraan jy vashou, sê dat God in Jesus Christus iets anders tot stand bring in die plek van hierdie verganklike aardse lewe. As die aardse lewe afgebreek word, het ons ’n permanente gebou in die hemel. Hierdie gebou verskil in drie opsigte van die aardse tent. In die eerste plek is die oorsprong van die gebou by God. Hy is die ontwerper en skepper van die nuwe bestaanswyse. In die tweede plek bestaan dit in die hemel voort. Daarmee word bedoel om in die volmaakte sin van die woord by God te wees. In die derde plek verskil die kwaliteit van hierdie nuwe bestaansvorm – dit is onverganklik. Dit is ’n radikale verandering van ons tydelike aardse bestaan.

Dit is waarvan die Heilige Gees ons waarborg is.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link