Markus 9: 33-37

Ons teksgedeelte van vandag begin met die dissipels wat stry onder mekaar. Eintlik weet hulle hulle stry oor onbenullighede, want toe Jesus hulle vra waaroor hulle stry, wil hulle nie sê nie. Hulle het gestry oor wie onder hulle die belangrikste is. Dit is seker maar ook tipies van mense van daardie tyd – die hele samelewing het immers gedraai rondom jou status van eer of skande. Maar dan maak Jesus gebruik van die geleentheid om hulle te onderrig.

Jesus wys die dissipels daarop dat daar onder hulle ’n nuwe waardesisteem moet geld – anders as in die wêreld, is die heersers nie die belangrikste nie, maar dié wat dien. As volgelinge van Jesus moet ons besonder begaan wees oor die mense wat gewoonlik misgekyk word in die samelewing. Jesus verduidelik deur te verwys na kinders.

Deesdae is al wat ’n ma of pa is baie trots op hul kinders en stuur hulle op die familie se WhatsApp-groepe foto’s van hul kinders se mylpale. Hulle nooi almal na die sport- of kultuurgeleenthede van hul bloeitjie en op Facebook is al die ouers se tydlyne vol foto’s van hul kinders. Kinders is baie belangriker vandag as in die verlede. Daarom klink dit vir ons nie so vreemd dat Jesus dit sê nie. Maar die dissipels se monde moes oopgehang het! Kinders het in daardie tyd geen status gehad nie, hulle is net-net bo slawe geag. Op dié manier wys Jesus vir hulle dat hul aandag gefokus moet wees op die geringstes, die minderwaardiges en weerloses, en nie op die hooggeagtes in die samelewing nie. Dit is juis die minstes wat die belangrikste is in God se koninkryk.

In ons samelewing is dit die weduwees, weeskinders, mense met gebreke, mense wat ’n laerklas werk doen as jy, bejaardes, siekes. Dis die mense aan wie ons aandag en liefde moet gee, nie die hooggeagtes wat al te gewoond is aan aandag nie. Dink net hoe sou die wêreld gelyk het as meer mense werklik omgegee het vir dié mense wat minderwaardig voel. As jy eer soek as ’n volgeling van Jesus Christus, dan is jy op die verkeerde plek.

Ds Waldo Pretorius, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap