Habakuk 3: 17-18

My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort. Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop – dis my anker, my vaste hoop. Ek behoort aan die Here. Niks sal my ooit van Hom kan skei.

So lui die woorde van Gesang 292. Wat is jóú enigste troos in lewe en dood? Dis ook die eerste vraag van die Heidelbergse Kategismus. Die woordjie troos roep beelde op van arms wat ’n huilende lyf vashou, van sagte woorde wat heelmaak waar daar stukkendheid is. Hoe lyk troos vir jou? Hoe klink sagte woorde wat heelmaak?

Habakuk se nogtans-teologie gee troos vir sy mense nadat die Babiloniërs in die jaar 586 vC die tempel in Jerusalem vernietig het. Die room van Juda se bevolking is na Babilonië weggevoer. Boonop was die oes ook daarmee heen. Die vyebome het opgehou bot, die wingerde het nie meer gedra nie, die olyfbome het ’n misoes gelewer, die koringoes was ten gronde, die vee was weg. Vir die Israeliete as boerderygemeenskap het dit alles net een woord gespel: Einde. Habakuk se nogtans-teologie sê: Al ly ons, al sien ons net eindes, nogtans staan God langs ons en by ons. Dis eers wanneer ’n mens self seerkry of met ander mense se seerkry te doen het, dat hierdie woorde van die profeet Habakuk vir ons betekenis kry – nogtans sal ek jubel, want die Here is nog daar!

Ons leer ’n waardevolle les by die profeet Habakuk: Geloof maak die toekoms oop. Geloof verbind ons met God en met hoop. Geloof verbind ons met die helder Môrester, die Lig in die donkerte. Ek en jy het dit vandag nog meer as ooit nodig om getroos te word, om met krag en oortuiging te kan sê: Nogtans sal ek jubel. Hierdie belydenis is die hart van ons geloof. Habakuk het iets hiervan verstaan: Al lyk alles donker, nogtans is daar lig. Al lyk dit of God ons alleen gelos het, nogtans is Hy daar. Dis ons enigste troos in lewe en dood.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia/Bybelgenootskap van Suid-Afrika

af
af
Deel met behulp van
Copy link