1 Petrus 1: 3-9
Ons almal het dit met mekaar gemeen dat ons ’n behoefte het aan hoop. Juis daarom is dit so dat daar by die meeste van ons ’n ingeboude sensor is wat fyn ingestel is vir enige spoor van hoop. Ons soek silwer randjies om donker wolke. Maar as jy een oggend wakker word en besef vandag gaan nie mooier as gister wees nie, verander alles. Dit is dan dat ’n mens behoefte begin kry aan ’n ander soort hoop, ’n hoop wat God alleen kan gee.
In die oorspronklike Grieks sê die skrywer eintlik dat ons “weergebore” moet word tot die lewende hoop (1 Pet 1: 3). Die hoop wat God gee en waarvan die apostel Petrus getuig, is nie iets wat ons van nature het of by geboorte ontvang nie. Dit is ’n hoop waarin jy weer gebore moet word.
Petrus skryf hierdie woorde aan die lydende kerk in Klein-Asiê, wat hy in vers 1 vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon, noem. Hul situasie was menslik gesproke uitsigloos. Christene is deur ’n vyandige staat en deur die gewone burgers van die samelewing vervolg. Aan sulke mense skryf Petrus, daar is hoop omdat Jesus uit die graf opgestaan het. Christelike hoop is opstandingshoop. Daarom is dit vir ons so kosbaar om in hierdie dae juis die opstanding van die Here te herdenk. Vandag is reeds die sesde Sondag van die Opstanding.
Die hoop waarvan Petrus getuig, is gevestig op iets objektief, iets buite ons, naamlik die historiese gegewenheid van die opstanding van Jesus Christus. Dit is nie afhanklik van ons nukke of grille, optimisme of pessimisme nie. Dis gegrond op die leë graf, gegrond op die heilsdaad van God op Paasmôre! In ’n tyd waarin ons wêreld dreig om in ’n grondelose hopeloosheid te verval, word die kritieke belang van hierdie boodskap juis onderstreep en moet die kerk van Jesus Christus dit met oortuiging in die wêreld stel.
Gebed
Here, dankie vir die vaste hoop waaraan ons kan vashou omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort