Matteus 10: 42
Eendag was daar ’n geldgierige en selfsugtige visserman. Hy het op ’n dag ’n pragtige goue vis in die rivier gevang, en dadelik na sy klein huisie vertrek om sy vis voor te berei. Toe hy tuiskom, en sy vangs op die tafel neersit, het die vis skielik begin praat en hom gevra om sy lewe te spaar! In ruil daarvoor sou die visserman drie wense kon kry wat vervul sou word. Die enigste voorwaarde was dat sy buurman twee keer meer as hy sou ontvang.
Sy eerste wens was vir ’n groot en gerieflike huis, en dit was onmiddellik so. Hy het toe ook twee pragtige huise op sy buurman se erf sien staan. Sy tweede wens was vir ’n vrou wat saam met hom in die huis kon woon. Binne oomblikke het sy langs hom gestaan. In elk van sy buurman se huise het ook ’n pragtige vrou gestaan. Nadat hy ’n oomblik nagedink het, was sy derde wens om in een oog blind te word.
Dit is wat selfsugtigheid aan ’n mens kan doen. Dit vermink jou lewe, maar dikwels ook dié van jou medemens. Paulus sê: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Fil 2: 3). Dit is soms bitter moeilik, maar dit is die voorbeeld wat Jesus aan ons stel. Hy het sy eie lewe opgeoffer sodat ek en jy die ewige lewe kan hê. Soms is ons geneig om net die mense wat meer as ons het, raak te sien, maar die duisende wat minder het as ons, sien ons nie raak nie.
Mag ons harte gebreek en aangespreek word deur dié wat minder as ons het. Mag ons die vermoë behou om ons seëninge raak te sien, alles wat die Here vir ons gee, en om dan met oop hande te leef. Daar is ’n mooi spreekwoord wat sê: Die paradysvoël kom sit op die hand van die een wat dit nie vashou nie.
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos
