Romeine 5: 1-11

Joe Black, die bekende Afrikaanse sanger, vra in een van sy liedere: Hoop, wat is hoop? Dis ’n vraag waaroor gelowiges dikwels nadink. Sommige mense sal redeneer dat ons eerder van alle hoop ontslae moet raak, want dan sal ons nooit teleurgesteld wees nie. As gelowiges, wat in die voetspore van Jesus Christus loop, kan ons egter nie van hoop ontslae raak nie. Hoop is nie die sondebok wat buite die stadsmuur die wildernis ingejaag moet word nie. Lê die probleem nie eerder by die beeld van hoop wat ons in ons koppe het nie?

Paulus praat in Romeine 5: 5 oor hoop wat nie beskaam nie. Wat bedoel Paulus daarmee? Paulus sê eintlik dat hoop nie teleurstel nie. Elkeen van ons wat al teleurstellings in die lewe beleef het, sal baie moeilik met Paulus hieroor staamstem. Elkeen van ons het al êrens in ons lewens gehoop en toe is daardie hoop teleurgestel. Die Emmausgangers (Luk 24) het ook gehoop, en die pad waarop hulle geloop het, was ’n pad van teleurstelling. Hul anonieme reisgenoot (ons weet dis Jesus) vra hulle immers uit oor hul teleurstelling. Die probleem met die Emmausgangers se hoop is nie soseer dat hulle gehoop het nie. Die probleem het gelê by die prentjie wat hulle in hul koppe oor hoop gehad het. Hul prentjie van hoop het nie ruimte gehad vir lyding nie.

Paulus noem, daarom, “hoop” heel laaste in sy skema in Romeine 5. Vir Paulus begin hoop op ’n ander plek: Hoop begin by swaarkry, wat volharding kweek, wat weer lei tot egtheid van geloof, en dan uiteindelik uitmond in hoop. Paulus sê eintlik dat hoop ’n proses is. Hoop vrywaar ons nie van swaarkry en moeilike tye in ons lewens nie. Ons kan hoop, te midde van swaarkry, want ons loop nie alleen nie. Jesus Christus is ons Reisgenoot te midde van die hoogte- en laagtepunte van die lewe.

Ds Steve Oxton, Wapadrant

Share via
Copy link
Powered by Social Snap