Filippense 1: 20-26

Paulus se brief aan die gemeente in Filippi straal van vreugde en dankbaarheid, al sit hy in die tronk met ’n doodvonnis oor sy kop. Hoe kry Paulus dit reg? Vir Paulus is die lewe Christus. As die lewe Christus is, sê hy, dan is die sterwe wins.

Hoe dink hy oor die dood? Paulus praat van die dood as om heen te gaan en met Christus te wees. Dis anders as hoe mense in die Ou Testament geglo het: Vir hulle was die dood om weg te sink in ’n skaduweebestaan, nes ’n skip wegsink in donker dieptes. Maar vir Paulus was die dood eerder soos ’n boot wat in die hawe invaar, waar daar nie meer storms, rotse of gevare is nie. Daarom noem hy die sterwe wins. Daar is nie meer verlies of skade nie.

Die mooiste is dat Paulus nie kan kies tussen lewe en dood nie. Hy praat van ’n tweestryd. Maar dit is nie ’n emosionele tweestryd van iemand wat selfdood oorweeg nie. So iemand wil nie meer lewe nie, maar is vir die dood bang. Paulus wil albei. Dood beteken vir hom dat hy by Christus sal wees. Dit is verreweg die beste, want Christus is sy lewe. Dit sal volle lewe beteken, sonder enige moontlikheid van verlies of skade. Maar hy wil ook graag lewe, die oop see kies, want dan kan sy skip steeds vir hulle wat hom hier so nodig het, koers aandui. In die oop see is daar storms en rotse, maar met ’n Stuurman vir wie hy vertrou met die groot besluit van lewe en dood, wat elke rots en storm ken, is hy ook nie bang om te bly lewe nie.

Kan daar ’n groter ideaal wees as dat Christus ons lewe is? Dat ons ook voluit sal wil lewe as iemand wat koers en rigting aandui vir ander wat dit nodig het? Moenie voortydig wil ophou nie, maar sien uit na die hawe waar die ware lewe wag, wanneer die ware Stuurman dit besluit.

Dr Piet van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link