Job 28 (Spreuke 8) (AFR2020)
Die hoofstuk is ’n gedig oor wysheid, net voor die gedeelte waarin Job homself probeer regverdig. Dit is interessant om te sien hoeveel ooreenkomste daar met Spreuke 8 is.
Die gedig begin (1-11) met ’n bewondering vir mense se vermoëns – die vindingrykheid waarmee hulle in staat is om metale uit die aarde te ontgin en water op te dam. Die mens is in staat om die aardkors wat nie aan voëls bekend is of deur diere betree is nie, binne te dring en minerale en gesteentes te vind. Die mens is in staat om lig te gee waar daar donkerte is.
Na die gedeelte oor ontginnings en ontdekkings, word die vraag gevra waar wysheid gevind kan word (12). ’n Sterflike mens ken nie die waarde daarvan nie en dit is nie te vind nie, selfs nie deur ontginnings of wetenskaplike uitvindings nie. Wysheid is nie eens geografies geleë nie, nóg op land, nóg op see, want dit is nie ’n voorwerp nie (13-14). Geen een van die skatte wat deur mense ontgin kan word, kan wysheid omsluit of van genoeg waarde wees om dit mee te koop nie (15-19). Nie eens goud vanaf Ofir nie. Die ligging van Ofir is onbekend. Dit word dikwels in die Bybel genoem as die bron van goud (1 Kon 9: 28; 22: 49; 2 Kron 8: 18; Ps 45: 10) en ook van fyn hout en edelgesteentes (1 Kon 10: 11; 2 Kron 9: 10).
In vers 20 word baie dieselfde vraag gevra as in vers 12. Nou word gevra waar kom wysheid vandaan. Dit is verborge vir alle lewende wesens, en selfs die dood of die onderwêreld het net gehoor daarvan. Net God ken wysheid en die oorsprong daarvan. Hy het selfs daarmee geskep (vgl Spr 8: 22-30). Hy het dit geskep en vir die mens gesê ontsag vir Hom is wysheid. Dit herinner ons aan die gedagte in Spreuke (1: 7; 8: 13; 9: 10). Wysheid is deel van God se misterie en daarom sal die mens dit nooit volledig kan begryp nie. Dit is in wese die erkenning van menslike begrensdheid en afhanklikheid. Wysheid is om gemaklik te lewe binne die misterie van God.
Psalm 104: 13-15
Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria
