2 Korintiërs 5: 14-19

Paulus praat in vers 17 van ’n nuwe mens. Waaruit kan die nuutheid tog bestaan? Alles lyk by baie van ons Christene so gewoon! Moet daar dalk by ons die hunkering wees na die buitengewone belewenisse waarvan party geloofsgroepe getuig? Nie volgens die teks nie. Ons is nuwe mense omdat die liefde van Christus ons dring, by ons beheer oorgeneem het. Hoe? Deur die insig dat almal saam met Christus gesterf het. As ons besef dat Hy dit vir ons gedoen het, dat daardie liefde vir ons bedoel is, het ons deel gekry aan sy dood en opstanding. Dan leef ons nie meer vir onsself nie en dink ons anders oor alles.

Ons kennis, ons beoordeling van almal en alles, is anders, nie meer volgens menslike maatstaf nie. Christus is nie meer ’n wonderdoener, bevryder, volksheld nie, maar die gekruisigde wat Homself oorgegee het sodat vryspraak en ware vrede moontlik kon word. As ons deur Christus se liefde beheer word, sien ons onsself ook anders. Van nature vergelyk ’n mens jouself met ander, en in die proses onder- of oorskat jy jouself. As jy jouself sleg maak, skep jy ’n vyand wat voed op jou energie, jou verlam en van jou ’n verloorder maak.

Aan die ander kant is dit moontlik om ’n beeld voor te hou van wie jy nie is nie, en wat lewensmoegheid en soveel spanning kan skep. Die nuutheid kom ook na vore in die beoordeling van ander mense: om gereeld fout te vind en te veroordeel word minder, en om te vergewe en te troos word makliker, met die innerlike vrede wat dit meebring. Ook die siening van omstandighede is anders, soos dat daar ’n besondere krag in jou na vore kom selfs in moeilike tye. Volgens Victor Frankl is die grootste revolusie van ons geslag die ontdekking dat ’n mens sy uiterlike lewe kan verander deur sy gesindheid te verander.

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link