Markus 4: 26-29

In dié gedeelte word die feit beklemtoon dat alles nie noodwendig so eenvoudig of so aanskoulik is nie. Miskien word dit aan die Nagmaaltafel die skerpste beleef, wanneer ons uitgenooi word om te eet, terwyl dit maar net ’n klein stukkie brood en ’n slukkie wyn is wat tot versadiging moet lei. Vir diegene wat buite staan en na die kerklike verrigtinge kyk, lyk dit waarskynlik soos ’n gejaag na wind. Dit verbaas nie, die evangelie en daarom die koninkryk, is en bly steeds anders as wat noodwendig deur navorsing en kennis verwoord sou word. Dit is reeds gestel dat die openbaring van God ’n openbaring in verborgenheid is.

Iets daarvan blyk in meegaande Skriflesing wanneer die koninkryk vergelyk word met ’n man wat saad op die land uitstrooi. Dit ontkiem en groei ten spyte van die feit dat die man met sy menslike aktiwiteite van gaan slaap en opstaan voortgaan, sonder om te weet hoe dit gebeur dat alles uiteindelik op die oes uitloop. Die koninkryk van God verwoord, met ander woorde, ’n vooruitgang, beweging iewers heen, wat nie van menslike aktiwiteite afhanklik is nie.

By alles word hier iets verwoord van wat bestaan, maar wat nie noodwendig na waarde geskat word nie. Dit is soos die kerk wat eenvoudig en minder belangrik daar uitsien en derhalwe deur baie sodanig behandel word, maar intussen in direkte verband staan met die Here as Hoof van die kerk, sy liggaam. Dit is ’n faset wat van kritieke belang is in die kerk in sy wydste verband. Die kerk en gelowiges is op pad na die toekoms wat nie eendag miskien sal gebeur nie, maar eintlik reeds in wording is omdat dit eintlik reeds gebeur het.

Die koninkryk van God is bepalend. Dit het aangebreek. Hoe weet ons dit? Luister na die stem van Jesus wat op verskillende maniere tot ons kom. Nou dalk nog in ’n ietwat raaiselagtige beeld, maar die skemer sal uiteindelik plek maak vir die oes wat noodwendig volg in die koninkryk van God.

Dr Barry van Wyk, Emeritus/Waterberg/Zoutpansberg

af
af
Copy link