Johannes 1: 43-51
In hierdie Skrifgedeelte lees ons van ’n ontdekking wat Natanael oor sy eie lewe gemaak het. Hy kom tot die besef dat Christus hom geken het nog voordat hy bewus was van Jesus. In die vertelling van hoe Jesus Filippus geroep het en Filippus dan vir Natanael gaan sê dat hy die Messias ontmoet het, sien ons dat Natanael skepties is. Hy bevraagteken Jesus se afkoms deur te vra of iets goeds uit Nasaret kan kom. Hy vra kritiese vrae en soek bewyse dat dit wat Filippus sê, die absolute waarheid is.
Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, is sy woorde: Hier is ’n ware Israeliet, ’n man in wie daar geen geen bedrog is nie. Jesus benadruk die feit dat Natanael reguit, eerlik en krities is. Natanael is onkant gevang omdat hy onder die indruk was dat hy vir Jesus gaan betrap met ’n uitklopvraag. Natanael is ongemaklik en verbaas, en hy vra vir Jesus: Waarvandaan ken U my? Jesus antwoord: …toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.
Op daardie oomblik gebeur daar iets met Natanael – hy word herinner aan ’n oomblik toe hy alleen was, maar Jesus geweet het wat hy deurmaak. Dit is vir Natanael die bewys dat hierdie Persoon regtig die Seun van God is. Natanael besef in daardie oomblikke dat Jesus hom waarlik ken, omdat Jesus na ’n geleentheid en ’n plek verwys waarvan net hy geweet het. Elke Israeliet het ’n vyeboom of ’n wingerd buite sy huis gehad waar hy rustig in die koelte kon sit. Dit was dan ook ’n plek van gebed, nadenke en gewigtige lewensbesluite. Die vyeboom is die ruimte waar gelowiges nagedink het oor geloofsake, onsekerhede en frustrasies. Dit was private en intieme oomblikke met God.
Die Here sien ons raak daar waar ons worstel om staande te bly en sin te maak van dit wat daagliks met ons gebeur. Hy ken ons pyn en onsekerhede. Hy wil ons deur sy skeppende genade elke oomblik herinner aan sy teenwoordigheid en krag. Kom ons ontdek hoe God ons raaksien op ons plekke van seerkry en teleurstellings, en van vreugde en volharding.
Ds Martin Meyer, Secunda
