Markus 14: 28

Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.

Kom ons wees vrolik en dank die Here vir die lente wat aangebreek het. Daar is mense wat dit dalk baie teësinnig wil doen. Omstandighede is vir hulle maar nog net so sleg soos die winter wat verby is. En dit hou net nie op nie. Die krisisse doem amper in reëlmaat een na die ander op… Hulle wonder wat die uiteinde van alles gaan wees. Vrese pak hulle beet. Standaarde neem af, sedes gaan agteruit, en ’n vreesaanjaende onrustigheid pak hulle beet as hulle hoor hoe daar ingebreek en gemoor word.

Asof dit nie genoeg is nie, word reggeaarde kinders van die Here ook onrustig oor soveel mense wat nie op God steun nie, maar wat glo dat ’n mens jou eie heil sonder Goddelike inmenging moet uitwerk. Dit laat jou selfs magteloos voel. Wat kan ek doen om hulle tot ander insigte te laat kom?

Dit is net God en die liefdes- en vredesbeginsels wat Hy neerlê, wat dinge kan laat verander. Hier lê die antwoord. Ons kan ’n verskil maak. Ons kan die Heilige Gees toelaat om sy vrugte in ons doen en late te laat groei. Maak jou toeganklik vir die liefde en vreugde en vrede en geduld en vriendelikheid en nederigheid en getrouheid en goedhartigheid en selfbeheersing wat Hy in jou wil saai. As jy dit nastreef, is jy nooit alleen nie, want waar hierdie dinge sigbaar is, is God self teenwoordig. Jy sal nooit alleen wees as jy hierdie dinge nastreef nie. Waar dit sigbaar word, is Jesus self teenwoordig; trouens, Hy gaan jou vooruit om die pad skoon te maak. Kom ons blaas ’n positiewe gees in ’n negatiewe wêreld in. Strooi “lentebloeisels” waar onkruid gedy.

Vader in die hemel, stuur u Gees om sy vrugte in oormaat in ons te saai. Amen.

Dr Hannes Beukes, Emeritus/Morgenzon

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link