Psalm 1

Dit gaan goed met die mens! Gelukkig is die mens! So begin die Psalmboek in die Bybel. Maar watter mens is regtig gelukkig? Psalm 1 wys ons die geluk wat elke mens regtig nodig het en waarsonder niemand durf lewe nie. Mis jy hierdie geluk, mis jy eintlik alles in die lewe. Volgens hierdie Psalm is ’n mens gelukkig as jy saam met God deur die lewe gaan. As jy dus met God rekening hou in jou lewe – dit is ware geluk. 

Mense wat met God rekening hou in hul lewe, word hier die regverdiges genoem. Hierteenoor word die mense wat doelbewus sonder God lewe die goddeloses genoem. In vandag se terme sou ons van gelowiges teenoor ongelowiges praat. Goddeloses is nie mense wat noodwendig lelike en verkeerde dinge doen nie, maar is mense wat doelbewus hul band met God breek. Hulle wil met God niks te make hê nie. Hulle sal nie staande bly wanneer die oordeel van God oor hulle kom nie.

Daarteenoor is daar die regverdiges, die mense wat die geluk in God soek en vind. Hulle hou hulle ook nie op met dinge wat daardie band met God wil verbreek nie. Die gelowige ondersoek die Woord van die Here dag en nag. Hy of sy lees dit nie net nie, maar leef elke oomblik van sy of haar lewe daaruit. Dis die lamp vir die voet en die gids vir die lewe.

Psalm 1 behoort eintlik die opskrif te wees wat in elkeen van ons se lewe moet staan. Lewe saam met God en jy is gelukkig, ook al is jou uiterlike omstandighede nie noodwendig rooskleurig nie. Dit gaan goed met jou as jy die pad saam met die Here loop, as jy elke dag jou verdiep in sy Woord en elke dag daaruit wil lewe. Dan is jy soos ’n boom wat by ’n waterstroom geplant is en op die regte tyd vrugte dra. Jy gee betekenis aan almal rondom jou se lewe. Gelukkig is so ’n mens!

Ds Arie Kuyper, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link