Op 9 Junie 1973 is die kerkgebou van die Nederduitsch Hervormde Gemeente Stellenbosch ingewy. Na die Hervormde predikant Tobias Herold van 1831 tot 1857, hoor ons nie weer van Hervormers in die wynland nie, want op 5 November 1842 het die naam van die kerk in die Kaapkolonie verander na Nederduits Gereformeerd, moontlik omdat hulle nie meer met die Nederlandse Hervormde moederkerk wat as liberaal beskou is, vereenselwig wou word nie.
Die Voortrekkerkerk van die Noorde stig eers weer op 21 Julie 1940 ’n NHKA-gemeente in Kaapstad. Buitewyk-eredienste is op Stellenbosch gehou. Dan volg in 1967 ’n eie bankrekening ter wille van ’n boufondsneseier; ’n NHSV-tak; eie kategese; ’n eie kerkraad; en ’n eie silwer Nagmaalservies. Sedert 7 April 1972 funksioneer die ’Bosch semi-onafhanklik as die “Stellenbosch afdeling van Kaapstad” met 200 belydende lidmate en 80 kinders.
Op die 32ste verjaardag van Gemeente Kaapstad op 21 Julie 1972 word ’n vierling gebore: Wynberg (later Skiereiland; ontbind in 2007 en toe weer deel van Kaapstad); Tygerberg (ontbind in 2003 en weer deel van Kaapstad); Bellville; en Stellenbosch. Teenwoordig was emeritus ds Andries Brandt (die vader van die Kaapse gemeentes, seun van ds Louis Brandt en mev Johanna van Warmelo-Brandt); ds Sampie GA Golden; dr Andries JG Oosthuizen, voorsitter van die Algemene Kerkvergadering (AKV); en ds Adam J Zwarts (Weermagkapelaan in die Wes-Kaap).
’n Geskikte perseel vir ’n kerkgebou moes gevind word binne loopafstand van die Universiteitsgemeenskap. Geen maklike taak nie, aangesien daar in hierdie tweede oudste Europese nedersetting in Suid-Afrika nie veel oop grond is nie. Derhalwe word ’n ou koshuis, Eet en Rus, op die hoek van Bosman- en Hofmeyerstraat in die midde van die meeste koshuise gekoop. (Dit is Erf 1896 met woonstelregte, grootte 1847 vierkante meter, Bosmanstraat 10.) Die koop is beklink in Februarie 1969 teen ’n som van R31,000 met transportakte 25817/1971, en die gebou is aan die begin van 1971 gesloop.
Die AKV van 1970 het spesiaal fondse bewillig op voorstel van dr AJG Dreyer vir die kerkgebou en ’n predikant. Op 13 Februarie 1972 bevestig prof JI (Koos) de Wet in Kaapstad ds SGA Golden as die eerste predikant, met die pastorie by Binnekringweg 16, Dalsig. Emeritus dr Piet J en Sussa van Staden het later hierdie pastorie gekoop en bly steeds daar.
Die vroue in die gemeente en die Hervormde Studentevereniging met hul toere het flink geld ingesamel vir die bou van die kerkgebou vir behoud van Hervormde kinders van alle uithoeke van die land wat aan die Universiteit van Stellenbosch kom studeer het.
Bouwerk begin in Februarie 1972. Die boukommissie is oudl C van Schaik voorsitter; diak FA Marais sekretaris; oudl JPL Swanepoel; diak PJ Els; mnr L Bekker; studente-oudl PF Ernst; en predikante dr AJG Dreyer en ds SGA Golden. Die aanvanklike bouer was Basson en die finale bouer Albert Mulder. Die argitek was JJ Neetlingh, met leeue-aandeel van dr AJG Dreyer wat ook die hoeksteen onthul op 21 Oktober 1972.
Die inwydingsplegtigheid het op Saterdag 9 Junie 1973 om 15:00 begin. Die bouer oorhandig die sleutel aan mev J Golden, en sy sluit die imposante deure oop. Die deurhandvatsels is brons Kerkwapens. Toe word die Kerkwapen in die portaal onthul deur HR Menkveld, HSV-voorsitter, ’n studente-ouderling.
Die wapen is gemaak deur kunstenaar Leo Theron. Die Bybel word op die kansel geplaas deur ds AJ Zwarts. Ds Johannes GM Dreyer (sr) van Potchefstroom lewer die ingebruiknemingsrede. Groeteboodskappe en gelukwensinge volg, van die Kommissie van die AKV; Raad van Finansies; ring van Kaapland; die Gereformeerde Kerk; die visekanselier van US, dr JS Gericke – ook namens die NGK; en namens die gemeenskap die burgemeester mev AM Eksteen. Ds Brandt doen die bedankings.
’n Kerkkoor van die NG Sentraal (Moedergemeente) onder leiding van Pieter van der Westhuizen sing tussendeur vier liedere, en met die uitloop van die gemeente sluit hulle die verrigtinge af met Kom sing vir Hom ’n nuwe lied. Verversings is, soos dit Hervormers betaam, bedien in die saal. Die volgende dag, 10 Junie, is Nagmaal om 09:00 gevier en danksegging om 18:30.
(Bronne: NHKA Argief; Die eerste 40 jaar van die NHK Gemeente van Kaapstad 1940-1980 deur prof J L Hattingh; en Gedenkalbum NHKA Gemeente Stellenbosch 09.06.1973)
(Ds Carel Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)