Jona 3: 10 – 4: 10
Die boek Jona vertel die verhaal van die profeet Jona. God stuur Jona na die stad Nineve toe, om daar God se werk te doen. Maar Jona gaan Tarsis toe, Jona vlug weg van God af, en die opdrag wat God vir hom gegee het. Jona word in die see gegooi en deur ’n groot vis ingesluk, wat hom na drie dae en nagte uitspoeg. Toe eers gaan Jona na Nineve.
Die stad Nineve is drie dae se stap groot. Na een dag se stap en die sê van een sinnetjie, Nog net veertig dae en Nineve word verwoes! beskou Jona sy werk as afgehandel. Jona gaan sit buite die stad, en wag dat God hierdie mense moet straf soos wat hy, Jona, gesê het. Jona is teleurgesteld en kwaad, want wat hy in die stad gesê het, is vir hom belangriker as dit wat God deur sy woorde bewerk het: die redding van mense.
Jona is ontevrede omdat God barmhartig, lankmoedig en vol liefde is en eerder seën as straf. Ons wil dikwels soos Jona eerder sien hoe God mense straf as om te glo dat God liefde is en wil red. God is besorg oor ons mense. In God se barmhartigheid, lankmoedigheid en liefde is God altyd reddend besig in ons lewe.
Elkeen van ons kan ’n Jona wees – iemand wat skuil agter sy of haar eie opvattings oor God, oor wat God volgens ons behoort te doen. Mense wat so lewe en vashou aan ons eie vooroordele, tradisies en eie opvattings dat ons God daarmee wil beperk. Ons word gewaarsku daarteen om soos Jona te wees, maar ook getroos dat God ’n storie of saak het met ons. God wil ons harte verander, sodat ons kan insien dat ons die voorreg het om God se liefde en genade aan alle mense te verkondig, maar dat ons terselfdertyd nooit iemand daarvan mag uitsluit nie. God kan en wil alles vir ons doen, want God is besorg oor mense, oor my en oor jou.
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten