Jeremia 31: 31-34

In plaas van God se wil, is ons eie wil ingeskryf op ons harte. In plaas van liefde vir God en ons naaste, is liefde vir onsself en vir ons eie belange ingeskryf op ons harte. Jeremia 17: 1 sê: Die sonde van Juda is ingegraveer met ’n ysterpen, ingegrif met ’n diamantpunt op hulle harte.

Dit is nie iets wat ons op ons eie ongedaan kan maak nie. Dit is nie dat mense nie al in die geskiedenis probeer het om die hart te genees nie. Maar niks het gewerk nie. Moses se wet het ’n stel reëls gegee waaraan ’n mens jou kon hou en wat die belofte van sukses gehad het. As jy net God aanbid en niemand anders nie, dan is jy reg. Noem maar so al tien gebooie op. Dit het egter net mense se uiterlike optrede verander, nie hul harte nie. Jesus beskuldig juis die Fariseërs hiervan.

Die profete het probeer deur die volk bang te maak met die oordeel van God, waarskuwings wat ’n paar keer ook letterlik in vervulling gegaan het. Maar selfs dié vrees vir die oordeel van God het nie daarin geslaag om die hart van die mens te genees nie. Jeremia sê egter daar kom ’n tyd wanneer God dit sal verander. God sal ons vergewe vir die sonde wat op ons harte ingeskryf is. Hy sal nuwe woorde daarop skryf, sy woorde, woorde wat ons van binne af gehoorsaam sal maak. In ons binneste en in ons gedagtes raak die woorde aktief sodat ons God en ons naaste lief kan hê.

Daardie tyd het met die koms van Jesus Christus aangebreek. Die lyding wat Jesus moes deurmaak, was ter wille van ons sonde, sodat God sy woorde op ons harte kon skryf.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link