Matteus 26: 17-19, 26-30
Jesus weet wat op Hom wag – waarskynlik die moeilikste, donkerste dag van sy lewe. Jesus se dissipels berei voor om Pasga te hou, die viering wat die Joodse Paasfees ingelui het. Hierdie bevrydingsmaaltyd het hulle herinner aan hul verlossing uit slawerny ongeveer 1 500 jaar vantevore. God het die Joodse volk verlos uit Egipte. Oordeel sou oor Egipte kom, maar die huise waar die bloed van ’n lam aan die deurkosyne gesmeer is, is verbygegaan. Daardie selfde nag sou hulle uit Egipte verlos word en die tog na die beloofde land begin.
Die aand het vir die dissipels ’n bietjie vreemd begin. Hulle het dadelik by die tafel gaan aansit en nie aandag gegee aan die Joodse reinigingsrituele voor die maaltyd nie. Niemand wou die minste wees om ’n ander se voete te was nie. Jesus het toe die gestalte van ’n dienskneg aangeneem en sy dissipels se voete begin was. Hy het hulle geleer om gewillig te wees en mekaar en ander te dien.
Daarna het die ete ’n spesiale wending geneem. Jesus het die brood geneem en dit gebreek en vir elkeen van sy dissipels gegee en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam. Hy het ook vir hulle ’n beker wyn gegee en gesê: Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes (verse 26-28). Hierdie woorde gee aan hierdie Pasgamaal ’n nuwe betekenis. Jesus stel Homself voor as die nuwe Paaslam. Hy weet Hy is die Lam wat ter slagting gelei gaan word. Sy bloed moes vloei om die mensdom uit slawerny en sonde te red.
Jesus se woorde wek hoop by ons. Hoop dat selfs in die donkerste uur, ’n stralende lig sal opkom. Daarom dalk ’n swart, donker dag vir Jesus, maar ’n wit, helder dag vir ons wat deur Hom gered en bevry is. Jesus maak ons ook deel van hierdie nuwe instelling van die Nagmaal deur te sê: Gebruik dit tot my gedagtenis. Dus weet ons wanneer ons op Wit Donderdag Nagmaal vier, dat Jesus in sy donker uur vir ons die Lig laat deurbreek.
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos
