Eksodus 40: 34-38

Hierdie verhaal was ’n hoogtepunt vir die Israeliete. Hulle het die tabernakel klaargebou en die Here se magtige teenwoordigheid het die tent van ontmoeting gevul. Met hierdie tabernakel het hulle vir Hom ’n plek in hul kamp gegee waar Hy kon bly. Hulle het vir Hom ruimte gemaak in hul midde. Hulle het hulself oopgemaak vir God se teenwoordigheid.

Waarmee gaan ek vandag my tabernakel bou, hoe gaan ek nou vir die Here hierdie ruimte maak om teenwoordig te wees? Ek doen dit deur my manier van leef. Ek doen dit deur naasteliefde, deur gebed en as ek volhard in die geloof. Dan los ek nie hierdie tabernakel by die kerk nie en ek vergeet dit ook nie by die huis nie, dit gaan oral met my saam. Daar waar ek saam met broers en susters by die kerk is, as ek elke dag moet werk, as ek bestuur op die pad, as ek inkopies doen, as ek op die internet rondblaai, waar ek saam met familie en vriende kuier – daar gaan die Here saam met my. En kyk weer mooi, waar het die tabernakel gestaan? Net soos wat die Israeliete hul kamp rondom die tabernakel gebou het, net so moet die Here ook die middelpunt van my lewe wees. Die Here se tabernakel moet op so ’n plek staan dat ek dit altyd kan sien. Daardie wolk- en vuurkolom moet ek nooit uit die oog verloor nie.

Wat gebeur as ek dit doen? Kyk hoe vinnig het die Here in die tabernakel ingetrek. Hy het nie gewag nie – toe die tabernakel reg was, het Hy dadelik ingetrek. Dis asof Hy haastig was om tussen sy mense te kom bly. Dis ’n wonderlike belofte waarmee ons hierdie dag begin. Die Here wil by ons teenwoordig wees. Hy wil ons help. Hy wil ons versorg en op die regte pad lei. Kom ons gaan bou vandag met ons optrede vir die Here ’n tabernakel. Die Here is vandag gretig om na ons toe te kom.

Ds Pieter Rossouw, Mafeking

Share via
Copy link
Powered by Social Snap