Johannes 7: 53 – 8: 20

Jesus het op ’n  keer van Homself gesê: Ek is die lig vir die wêreld (Joh 8: 12). By ’n ander geleentheid het Hy weer vir sy dissipels gesê: Julle is die lig vir die wêreld (Matt 5: 14). Hierdie oënskynlike teenstrydigheid kry betekenis as ons besef dat ons die Here se beeld moet vertoon. As Hy lig is, moet ons dit mos ook wees!

Tydens die fees van die ligte op die Joodse kalender staan Jesus by die tempel. Oral rondom Hom is lampe aangesteek. Jesus sê dan dat Hy die lig vir die wêreld is. Dis egter hier waar die samestellers van die Johannes-evangelie die verhaal van die owerspelige vrou ingelas het. Dit was waarskynlik nie deel van die oorspronklike teks nie. Waarom is hierdie verhaal hier ingevoeg? Skrifkenners meen dat die samestellers van die Johannes-evangelie waarskynlik wou hê dat ons die Ek is die lig vir die wêreld-uitspraak teen die donker agtergrond van hierdie nagvrouverhaal sou lees. Dit vertel hoe die Fariseërs ’n vrou wat op owerspel betrap is, na Jesus bring. Ooglopend is dit ’n lokval waarin hulle Jesus wou lei. Volgens die Ou-Testamentiese wette wil hulle hierdie vrou van die donker stenig. Jesus red haar uit hul kloue en bied aan haar nuwe lewensmoontlikhede.

Waar Jesus ook al gaan, bring Hy lig, bring Hy lewensruimte en lewensvreugde. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee (vers 12). Elkeen wat met Hom in kontak kom, se lewe kry nuwe betekenis. Saggeus, Nikodemus, Maria Magdalena, Petrus, Tomas, almal.

Dis in die lig dat Jesus se uitspraak, Julle is die lig vir die wêreld, betekenis kry. Dit is duidelik dat ons as lig vir die wêreld die taak het om die ligspoor van Jesus voort te sit. Langs ons moet daar plek wees vir ander mense in ons ligkring. Ons kan sy lig oral aansteek: in die natuur, werkplekke, skole, huise, kerke, politiek.

Here, laat ek u lig weerkaats oral waar ek beweeg. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link