Job 4 en 5

In die klassieke retoriek kry ons dié logikaformule: As a = c en b = c, dan is a = b. So redeneer Elifas hier om te bewys Job is skuldig en verdien sy lyding as straf. Skuldiges gaan ten gronde (a = c). Job is besig om ten gronde te gaan (b = c). Dus, Job is skuldig (b = a). Die wysheid waarop Elifas en sy vriende roem, is wysheid wat God se betrokkenheid by die mens verstaan in terme van ’n oorsaak-gevolg-skema. As jy ’n vroom lewe lei, sal God jou met voorspoed seën. Maar as jy goddeloos is, sal God jou met lyding en vernietiging straf. Ons noem dit vergeldingsteologie (ook bekend as voorspoeds- of welvaartsteologie as die klem op die voorspoeddeel val).

So verstaan sommige gelowiges God se werkwyse vandag nog. Droogte is ’n teken dat God die bevolking daar straf. As hulle tot bekering kom, sal God hulle seën met reën. As jy siek is en daar word deur die regte mense vir jou gebid, moet jy net sterk genoeg glo, dan sal jy genees word.

Daarom sê Elifas: Job, jy het gesondig en is goddeloos. Dus, bely jou sondes en kom tot bekering, dan sal God jou weer met voorspoed seën en jou van jou lyding en jou ondergang red.

God gebruik dus lyding as straf ten einde die verhouding met mense te herstel, so het hulle geglo. Vandag weet ons, God het wel deur “lyding” die verhouding met Hom herstel, maar deur die lyding van Jesus Christus. God se betrokkenheid by die mens word dus nie deur ’n skema van straf of voorspoed bepaal nie, maar deur sy liefde en genade. Daarom kan ons op geen manier sy seën verdien nie, ook nie deur bekering van sondes of sterk geloof nie. Alles is net genade, onverdiende guns alleen. Ons kan God dus nooit wil inperk in enige skematjie soos die vergeldingsteologie nie, maar ons mag altyd in dankbaarheid aan sy genade vashou. Watter voorreg is dit nie!

Ds Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link